GEORGE NUUS - Met Erfenisdag in hul visier wil die Pacaltsdorp Development Initiative (PDI), in samewerking met die PBI politieke party, hul stem laat hoor aangaande 'n ooreenkoms wat glo jare gelede met vorige eienaars van die Le Grand-ontwikkeling aangegaan is.
"Luidens die ooreenkoms sou R10 miljoen aan die gemeenskap bewillig word, vir die opheffing van Pacaltsdorp-gemeenskap," het pastoor Jannie Horne, voorsitter van die PDI, gesê.
"Ons het reeds R972 000 ontvang, wat in paaiemente van R30 000 per maand betaal is, en gebruik is om die kantoor aan die gang te hou."
Volgens Horne skuld die nuwe eienaars van Le Grand die PDI 'n rapsie oor R9 miljoen.
Hierdie saak was onder bespreking tydens 'n massavergadering in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal Dinsdagaand, wat deur die PBI en Good-party gereël is. 'n Plakkaatoptog word beplan vir Erfenisdag, 24 September, by Le Grand se hoofingang in Hansmoeskraal.
Die Gouws-groep, wat tans die bestuur van Le Grand behartig, het by navraag verduidelik dat alle eise van alle skuldeisers volgens wet aan die likwidateurs van die bankrot maatskappy voorgelê moet word: "Die Gouws-groep vertrou dat die ooreenkomste met die betrokke rolspelers saam met die goedgekeurde ouditstate van die gelde wat reeds ontvang is, deel van die formele likwidasie prosesse sal moet wees. Die nuwe ontwikkelingsriglyne mag daarna tussen die nuwe partye bespreek en ooreengekom word."
Kommunikasie
Die PBI het onlangs 'n skrywe aan Le Grand gerig, waarin hulle 'n vergadering met die nuwe bestuur versoek. In die skrywe noem die PBI dat hulle deur die PDI in kennis gestel is van Le Grand se "onwilligheid" om die uitstaande sosiale bydrae aan die gemeenskap te bespreek.
Die feit dat die ontwikkeling intussen gelikwideer is, asook van hande verwissel het, is volgens die PDI nie 'n faktor nie.
"Die ontwikkeling is in 2009 gelikwideer, maar die voorwaardes het steeds gestaan. Wie ook al die ontwikkeling sou oorkoop moes die PDI raadpleeg oor die pad vorentoe. Dit is gestipuleer in die ROD (Record of Decision"). Die PDI verteenwoordig al die sektore in Pacaltsdorp - die kerk, jeug, sport en toerisme," het Horne gesê.
"Ek moet antwoorde aan die gemeenskap gee, maar hulle [Le Grand] wil nie werklik kommunikeer nie."
Die Gouws-groep het in reaksie hierop geantwoord dat hulle nooit gesê het hulle is onwillig om met die gemeenskap te gesels nie: "Die gemeenskap bestaan uit verskeie rolspelers en elkeen sal ordelik sy beurt kry," lees hul kommentaar.
"Die GG het dit egter duidelik gemaak dat die regsprosesse en die burokratiese riglyne 'n eerste prioriteit is. Die verskillende elemente waaruit die gemeenskap bestaan sal nadat die nuwe riglyne deur die owerhede gefinaliseer is, met al die belanghebbendes oor die gevolge van die veranderinge ingelig word."
Pad vol duwweltjies
In 'n skrywe aan George Herald het die Gouws-groep gesê daar is verskeie regsonsekerhede waaraan hulle tans werk. "Die Gouws-groep het hulle vasgeloop teen 'n klomp onsekerhede, waarvan sekere regsake is. Daarom is daar al verskeie hofsake aanhangig gemaak, waarvan sekere sake die afgelope paar maande hanteer is.
Luidens die skikkingsooreenkoms tussen die huidige en vorige eienaars mag daar nie oor die uitkoms van die nuutste hofsaak gepraat word nie. Daar is nog ander onsekerhede waaraan die Gouws-groep werk."
"Tweedens het die Gouws-groep agtergekom dat sekere van die munisipale voorwaardes nie behoorlik afgehandel is, soos dit aan hulle voorgehou is nie. Die Gouws-groep is tans besig om saam met die munisipaliteit te werk om seker te maak al die ordonnansies en dienste-ooreenkomste is in plek."
Die ontwikkeling gaan ook nie meer as 'n gholfbaanprojek hanteer word nie en die Gouws-groep is tans in gesprek oor die pad vorentoe.
"Provinsiale en plaaslike regulasies en insette word tans geïnkorporeer in nuwe voorstelle wat na die munisipaliteit geneem sal word. Ons werk nou saam met die munisipaliteit, wykskomitees en die plaaslike raadslid."
"Die beleggers en grondeienaars se belange moet in ag geneem word. Daar is pompstasies wat verander moet word, die paaie moet aandag kry. Daarna sal die groter gemeenskap ook aandag kry. Ons kyk na die paaie, elektrisiteit, water en riool van die omliggende omgewing, wat die landbougronde in die area insluit.
"Verder is die Gwaiingriviermond 'n belangrike historiese landmerk. Ons moet kyk hoe ons daardie riviermond as 'n bate vir die hele gemeenskap gaan beskerm, want hierdie is nie 'n Le Grand bate nie, maar 'n bate vir ons hele George en Tuinroete- gemeenskap."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'