Update
GEORGE NUUS - Die stof het nog lank nie gaan lê oor die jongste woelinge by die Le Grand-leefstylontwikkeling nie.
Die PBI en Good het hul ergernis uitgespreek oor die reaksie van die ontwikkelaar.
Verteenwoordigers van die gemeenskap, die PBI en Good, het op Saterdag 24 September by die hekke van Le Grand aan 'n plakkaatprotes deelgeneem.
Hulle het sekere eise gestel onder meer dat die nuwe eienaars hul ooreenkoms met die vorige eienaars, waarvolgens R10 miljoen aan die gemeenskap bewillig is vir die Pacaltsdorp-gemeenskap, nagekom word.
Volgens die gemeenskapsleiers is meer as R9 miljoen nog uitstaande. Die huiseienaarsvereniging en ontwikkelaars is 14 dae tyd gegee om te reageer.
Leiers van die PBI en Good het Dinsdag 12 Oktober by navraag 'n verklaring aan George Herald beskikbaar gestel waarin hul reaksie vervat is.
Hulle benadruk dat alle opsies oorweeg sal word om die ontwikkelaar te dwing om die voorwaardes na te kom. Dit sluit in oorweging om die projek te stop.
Verklaring
Die volledige verklaring lui: "Ons bevestig ontvangs van Le Grand se reaksie oor ons betoging op Erfenisdag. Beide partye is gegrief deur die niksseggende verklaring uitgereik deur die ontwikkelaar van Le Grand.
"Dit is baie duidelik dat daar weggeskram word van die daadwerklike kwessies wat ons memorandum bevat het. Feit van die saak is dat daar 'n ROD (record of understanding) is wat voorwaardes daarstel vir die ontwikkeling van Le Grand. Byna geen van die voorwaardes is nagekom nie.
"Die gemeenskap het sy deel gedoen en die ontwikkelaar is besig om verskonings te soek ten einde die voorwaardes nie na te kom nie. Die ontwikkeling, volgens wat ons verstaan, kan nie voortgaan as die bepalings van die voorwaardes nie nagekom is nie. In hul reaksie verwys Le Grand na die George-munisipaliteit.
"Dit is op rekord dat die munisipaliteit enige betrokkenheid by die ontwikkeling ontken. Hulle het dit duidelik gemaak in 'n skrywe dat die provinsie hierdie projek beheer. Hierdie rondspringery bring mee dat die Pacaltsdorp-gemeenskap die swaarste daaronder ly, terwyl die ontwikkelaar onverwyld voortgaan met ontwikkeling."
"Hierdie situasie is onaanvaarbaar en kom al vir baie jare aan. In die skrywe van Le Grand word daar gesinspeel dat daar ewe skielik baie rolspelers in die gemeenskap is. Ons stel dit onomwonde dat die ontwikkelaar 'n verpligting het teenoor die gemeenskap deur die PDI (Pacaltsdorp Development Initiative).
"Alle organisasies, rolspelers en die ontwikkelaar moet dus deur die PDI werk om die ooreenkoms te eerbiedig.
"As partye is ons nou meer as ooit oortuig dat die ontwikkelaar geen belangstelling het om die gemeenskap betrokke te kry nie. Ons sal dus gevolglik ons onderskeie steunbasisse konsulteer en die weg vorentoe bepaal.
"Dit sluit nie uit enige verdere aksies wat ons mag oorweeg nie om sodoende die situasie te finaliseer vir eens en vir altyd.
"Alle opsies sal oorweeg word om die ontwikkelaar te dwing om die voorwaardes na te kom. Dit sluit in oorweging om die projek te stop."
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'