Update
GEORGE NUUS - George-munisipaliteit se stadsbeplan-ningsafdeling is nie bewus van enige voorstelle wat van die ontwikkelaar van die Le Grand-landgoed ontvang is met betrekking tot die teer van die Hansmoeskraalpad nie.
Dit is volgens Jannie Koegelenberg, hoof van siviele ingenieursdienste. Koegelenberg het gereageer op 'n verklaring (George Herald, 6 Julie) van 'n woordvoerder van Le Grand, Johan Gouws, naamlik dat die ontwikkelaar reeds geruime tyd terug met die George-munisipaliteit in gesprek getree en voorstelle voorgelê het om die pad te teer.
Hulle wag egter vir die munisipaliteit om die voorstelle goed te keur, of vir verdere beraadslaging.
Gouws het gesê hoewel die ontwikkelaar nie tans tydens fase 1 van die ontwikkeling verplig is om die pad te bou nie, sal hulle dit wel doen aangesien toekomstige fases vertraag word. Slegs die toekomstige fases is onderworpe aan die voorwaarde vir die bou van die pad.
Koegelenberg het dit bevestig. "In hierdie verband let ons daarop dat die ontwikkelaar nie verwys het na die versoek om vir nuwe of gewysigde grondontwikkelingsvoorwaardes aansoek te doen nie. Slegs daarna sal die munisipaliteit in staat wees om enige voorstel te evalueer.
"Die voorwaarde vir die bou van 'n pad is ingebed in die ontwikkelingsvoorwaardes van Le Grand-landgoed (Hansmoes Kraal 202/78, 77, 78R en 90 - Le Grand-gholflandgoed) waarna die ontwikkelaar verwys as fase 2. Die ontwikkelaar verwys egter tans na die Le Grand-residensiële ontwikkeling (Hansmoes Kraal 202/78) of fase 1, wat nie 'n voorwaarde bevat met betrekking tot die bou van die pad nie.
"Die konstruksie van die toegangspad sal 'n ontwikkelingsvoorwaarde van die Le Grand-gholflandgoed (Hansmoes Kraal 202/78, 77, 78R en 90 - Le Grand-gholflandgoed) bly, totdat die grondgebruik-goedkeuring van die Le Grand-gholflandgoed (Hansmoes Kraal 202/78, 77, 78R en 90 - Le Grand-gholflandgoed) óf onttrek óf gewysig is."
In reaksie hierop het Gouws gesê, "Ons kommentaar bly dieselfde soos aan die begin van die maand en ons kommunikeer steeds met die stadsraad. Die ontwikkelaar gaan nie die saak in die media beredeneer nie."
Die oorspronklike ontwikkelaar van Le Grand wou 'n gholflandgoed vestig, maar is vroeg in die ontwikkeling gelikwideer waarna die eiendom enkele kere van eienaar verwissel het. Die plaaslike gemeenskap doen al vir jare 'n beroep op die munisipaliteit dat die pad geteer word.
'n Groep Hansmoeskraal- en Pacaltsdorp-inwoners het onlangs begin om handtekeninge in te samel vir 'n petisie wat aan die munisipaliteit oorhandig sal word waarin hulle eis dat die pad so gou moontlik geteer word.
Jan Oosthuizen, een van die organiseerders van die inisiatief, het vroeër die week gesê hulle het tot dusver 1 138 handtekeninge.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’