GEORGE NUUS - 'n Groep van meer as 100 inwoners van Pacaltsdorp en Hansmoeskraal het Dinsdagaand, 4 Julie, in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal byeengekom om 'n petisie te teken wat vereis dat die Hansmoeskraalpad tussen Pacaltsdorp en die Gwaiingriviermond geteer moet word.
Gebruikers van die pad is raadop oor die toestand van die pad wat verder versleg het met die onlangse swaar reën.
Die petisie sal aan George-munisipaliteit oorhandig word. Inwoners rig al vir etlike jare pleidooie aan die munisipaliteit om die pad te teer. Daar het oor die jare al verskeie noodlottige ongelukke plaasgevind.
George-munisipaliteit hou vol dat die ontwikkelaar van die Le Grand-landgoed verantwoordelik is vir die teer van die pad ingevolge 'n ooreenkoms met die aanvanklike ontwikkelaar wat destyds gelikwideer is. Die landgoed het ná die likwidasie enkele kere van eienaar verwissel en is uiteindelik oorgeneem deur die Gouws-familie.
Volgens 'n woordvoerder van Le Grand, Johan Gouws, het die ontwikkelaar nie die plig om die hele pad in die huidige fase van die ontwikkeling te bou nie. "Maar weens die vertraging in toekomstige fases, het die ontwikkelaar al reeds 'n geruime tyd terug met die George-munisipaliteit in gesprek getree en voorstelle voorgelê om die pad in die tussentyd te teer.
"Dit is hoofsaaklik om veiliger reistoestande te verseker en om al die eienaars en padgebruikers te ondersteun. Ons wag vir die munisipaliteit om die voorstelle goed te keur, of vir verdere beraadslaging. Ons ondersteun die petisie ten opsigte van die pad se status aangesien dit ontwikkeling ontmoedig, 'n impak op veiligheid het en vooruitgang in die gebied vertraag."
Die munisipaliteit het by navraag gesê die betrokke gedeeltes van die pad onder dispuut sal nie deur die owerheid geteer of gefinansier word nie.
Dit is direk gekoppel aan privaat ontwikkeling en is 'n gespesifiseerde voorwaarde vir die goedkeuring van Le Grand fase 2. Hierdie fase is vir baie jare vertraag weens uitdagings wat die aanvanklike ontwikkelaar ondervind het.
Die huidige ontwikkelaar is die enigste een wat tydraamwerke vir fase 2 kan verskaf. Hulle fokus is tans op fase 1 wat ook deur die aanvanklike ontwikkelaar se likwidasie geraak is en hulle probeer steeds uitstaande voorwaardes rakende hierdie fase regstel. In die tussentyd onderhou siviele ingenieursdienste die pad.
Die munisipaliteit sê die nodige verkeerstekens is in plek en ongelukke op die pad kan toegeskryf word aan die manier waarop motoriste bestuur.
'n Totaal van 115 mense het die petisie Dinsdagaand onderteken. Volgens Jan Oosthuizen, een van die organiseerders, is nog petisielyste in omloop en hulle mikpunt is om 2 000 handtekeninge te kry.
Inwoners hou vol die daarstel van 'n veilige pad is die verantwoordelikheid van die munisipaliteit en onderhandelings met die ontwikkelaar moet deur dié owerheid opgelos word.
Organiseerders en sprekers by die petisievergadering, van links: Charly Daman (voorsitter van die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum), Kerneels Kaptol, André Botes, Mona Olieslaager, Fred Barnard, pastoor Frans Joseph, Jacques Pienaar (agter, voorsitter van die Hansmoeskraalforum), Henco Scholtz, Jan Oosthuizen en Willie Britz. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'