Gallery Update
GEORGE NUUS - 'n Sewejarige dogtertjie van Rosedale-plakkerskamp, Jamie-Lee Mowers, is onder die opgewonde graadeentjies wat vandeesweek by Pacaltsdorp Primêr hul laerskoolloopbaan begin.
Wat Jamie-Lee anders maak, is die feit dat sy in haar jong lewe reeds groot uitdagings oorbrug het.
FOTOGALLERY: Jamie-Lee se lang pad na herstel
George Herald het verlede jaar in Maart berig oor dié dogter se vordering na 'n lewensveranderende beenoperasie in 2022 en die daaropvolgende behandeling by die Maitland Cottage-hospitaal in Kaapstad.
Vroeë tekens
Blount se siekte het veroorsaak dat Jamie-Lee se bene toenemend verkrom het. Volgens haar ma, Fedelia Mowers, kon hulle dit eers by haar rondom tweejarige ouderdom opmerk. Jamie-Lee het later gesukkel om te loop. "Met Covid-19 is die operasie uitgestel, en ons moes wag voordat ons haar skool toe kon stuur.
Sy het verlede jaar gr. R voltooi, en nou sien sy vreeslik uit na gr. 1," het Fedelia gesê. "Ons gaan weer Maart Kaap toe om te kyk of hulle die skroewe uit haar bene kan haal."
Jamie-Lee se beentjies voor die operasie
Jamie-Lee se beentjies na die operasie
Fototyd
Intussen is Jamie-Lee vreeslik in haar noppies met haar skooluniform en tas, wat sy spesiaal vir George Herald gewys het tydens 'n besoek aan haar huis verlede Vrydag. Jamie-Lee se jongste boetie, Fabian, is duidelik erg oor sy ousus, want hy wou ook saam op die foto's wees. Fabian was maar nog 'n baba toe hy saam met sy ma en sussie na Kaapstad moes gaan vir behandelinge aan Jamie-Lee se bene. Die tweetjies is deel van 'n kroos van vyf kinders.
'n Goeie jaar
Fedelia het vertel Jamie-Lee sien veral uit daarna om hierdie week haar skool uniform aan te trek. Sy het haar juffrou Dinsdag 16 Januarie ontmoet. "Haar bene lyk baie goed, baie beter as vantevore," het Fedelia gesê.
"Ek is bietjie bekommerd oor haar een been, maar sal Maart hoor hoe dinge lyk en luister of die dokter die een skroef kan uithaal."
"Ek hoop dat dit 'n goeie jaar vir haar sal wees, dat sy dit baie sal geniet. Ek wil haar die eerste dag skool toe neem en weer gaan haal. Ek sien so uit daarna. Die drie maande in 2022 in die Kaap was baie moeilik. Ons het baie deurgemaak. Die Here was met my elke dag. Vir 'n maand lank moes hulle elke dag die ysters om haar bene draai. Sy het so gehuil. Mense se boodskappe het my deur die tyd gedra."
Vorige artikel: Groot treë vir Jamie-Lee
Die presiese oorsake van Blount se siekte is onbekend, maar daar is aanduidings van 'n genetiese skakel (www.af.delachieve.com). Volgens Fedelia Mowers het haar oudste dogter soortgelyke probleme met haar bene gehad, maar in 'n mindere mate. Blykbaar het Jamie-Lee se oumagrootjie (van haar pa se kant) ook soortgelyke groeiprobleme met haar bene gehad.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’