Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Kleuter van Pacaltsdorp wat vroeër nie sonder pyn kon loop nie, hardloop deesdae sorgvry rond in haar ouers se agterplaas.
Blount se siekte het veroorsaak dat die lewenslustige klein Jamie-Lee Mowers (6) se lewe geweldig ingeperk is, want sy het toenemend gesukkel om te loop.
Ná behandeling in die Maitland Cottage-hospitaal in Kaapstad skarrel sy egter deesdae gretig saam met maats rond in die stofstegies van Rosedale se plakkerskamp.
Blount se siekte lei tot 'n uitwaartse kromming van die bene van die knie af ondertoe omdat die groeiplaat aan die binnekant van die knie stadig groei of heeltemal ophou om nuwe been te maak, terwyl die knieplaat aan die buitekant van die knie normaal ontwikkel.
Jamie-Lee sou verlede jaar al vir graad R ingeskryf word, maar die Covid-pandemie het daartoe gelei dat sy nie vroeër vir behandeling kon gaan nie.
"Ek wou haar nie voor die operasie skool toe stuur nie, want die kinders het haar baie geterg oor haar krom bene," vertel haar ma, Fedelia.
Toe sy begin loop het, was haar bene normaal. Die kromming het eers begin wys toe sy drie jaar oud was. "Ek het gedink sy sou dit ontgroei soos dit met my oudste dogter, Jaydene, gebeur het, maar dit het net versleg."
Jamie-Lee voor die operasie.
Jamie-Lee het vir 'n mediese ondersoek gegaan en in November 2019 sou sy geopereer word, maar die operasie is weens slym op haar bors uitgestel, en toe gebeur Covid. Gevolglik kon die prosedure eers verlede jaar gedoen word. 'n Eksterne fiksator is aan Jamie-Lee se onderbene geheg wat sy vir ses weke moes dra om haar bene te herbelyn.
Dit was 'n uiters pynlike proses. Die penne van die fiksator moes daagliks verstel word, vertel Mowers.
"Elke dag het my kind gehuil, maar sy is daardeur en ons is so dankbaar. Sy het voorheen moeg geraak na 'n klein entjie se loop en het veral soggens wanneer sy opstaan, gekla van pyn in haar heupe, maar nou is sy 'n ander kind."
Ma en dogter was in totaal vir twee en 'n half maande in die Kaap, maar Mowers sê die personeel en dokters van Maitland Cottage-hospitaal en ook weldoeners uit die publiek het gehelp om hul verblyf so gemaklik as moontlik te maak.
"Hulle sorg baie goed vir die kinders daar. My baba, Fabian, was toe ses maande oud en was ook saam, so dit was nogal 'n uitdagende tyd."
Kyk hoe die lewenslustige klein Jamie-Lee met die fiksators in haar bene stap in die Maitland Cottage-hospitaal.
'n Gevolg van Blount se siekte kan wees dat die een been langer is as die ander en Jamie-Lee sal moontlik weer vir 'n prosedure moet gaan wanneer sy 11 of 12 jaar oud is. Intussen kan haar lewe normaal voortgaan.
Fedelia Mowers met haar dogter Jamie-Lee wat vanjaar met graad R kon begin na die prosedure om haar bene reguit te maak. Foto: Alida de Beer
Jamie-Lee is gelukkig met haar reguit beentjies.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'