GEORGE NUUS - Georgiet Dawie Schoeman het die Nasionale Kampioenskapskild vir die beste mampoer in die land huis toe gebring en so sy pa en lewenslange leermeester, Boet onttroon.
Boet was al 10 keer die nasionale kampioen, maar moes vanjaar plek maak vir sy seun wat nie minder nie as agt dubbelgoud-toekennings in verskillende klasse ingeoes het.
Dawie, 'n lid van die Kultuurstokersgilde, sê perskes as basis vir sy mampoer bly 'n groot gunsteling, maar onder sy dubbelgoudwenners was daar ook sitrusse wat hy gedistilleer het. Hy het die afgelope vyf jaar verskeie medaljes gewen en verlede jaar die SA trofee vir die beste vyemampoer. Dawie se vrou, Elsie het vanjaar die trofee vir die beste kersielikeur in die land gewen en sy was die klaswenner vir gemmerlikeur en peerlikeur.
Die Schoemans stook vandag nog met die oorspronklike koperketels wat hul Schoeman-voorsate van 1844 af gebruik het om witblits te maak op 'n plaas naby De Rust. Deesdae staan die stookketels op die plaas Nooitgedacht ongeveer 25 km
van Potchefstroom af waar Dawie se ouers nog woon. Hoewel Dawie, Elsie en hul twee dogters vier jaar gelede na George verhuis het, reis hy gereeld tussen die Tuinroete en die plaas. "My oupagrootjie het van De Rust na Potchefstroom getrek en daar het my pa die eerste Schoeman geword wat mampoer begin stook het. Ek het van kindsbeen af by hom geleer."
Witblits word van druiwe gestook en mampoer van enige ander vrugte. Vrugte uit die Langkloof is deel van Dawie se wenresep. "Die kwaliteit van die vrugte is kardinaal vir 'n goeie mampoer. Ons voeg geen suikers of ander bymiddels by nie. Die gistingsproses is van die natuurlike suiker."
Mededinging rondom die mampoerstoomketels versuur darem nie die verhouding tussen Boet Schoeman en sy seun, Dawie nie, al moes hy sy mampoerkoning-titel aan sy seun afstaan.
Só drink jy mampoer
'n Mens drink mampoer tradisioneel met 'n totglasie - jy sluk hom weg en daarna vat jy 'n slukkie water. "Dan moet die smaak van die perske of nartjie of lemoen wat jy gestook het weer agter op jou tong kom sit. Jy moet die vrug kan ruik ook. Die mampoer se voorkoms moet skoon en helder wees - glad nie melkerig nie," verduidelik die kenner.
Die Schoemans dubbel-distilleer hul mampoer om 'n alkoholpersentasie van 52% te verkry. As jy volgende keer 'n sopie (dubbel-gedistilleerde) mampoer geniet, onthou maar dat 120 kg vrugte nodig is om een 750 ml-bottel te verkry.
Hoewel die Schoeman-dogters, Karla en Emma (albei Kwaggas), nog te jonk is om met alkohol te werk, het hulle al kursusse in die kuns van mampoerstook agter die blad en sal hulle waarskynlik die geslagte lange tradisie laat voortleef.
Twee ander plaaslike lede van die Kultuurstokersgilde het ook goed gevaar by die nasionale kampioenskap. Dr. Ferdie Ras het 'n silwertoekenning gekry vir sy appel-sours en Bernard Buys 'n silwer vir sy grenadellalikeur.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'