GEORGE NUUS - 'n Bekende gemeenskapsleier van Touwsranten, Elizabeth Titus, het onlangs 'n noue ontkoming gehad. Titus, wat ook die wykskomiteelid vir wyk 4 (Touwsranten) is, het in Mountain View-weg gestap.
Sy wou vroeër iets by iemand in die omgewing gaan haal, maar ongelukkig was die persoon nie tuis nie.
Terwyl sy in Mountain View-weg afgestap het, het sy skielik honde hoor blaf. Toe sy omkyk het sy gesien hoe vier honde op haar afstorm.
Sy het groot geskrik en dadelik padgegee. Gelukkig kon sy daarin slaag om by iemand se erf in te kom en die veiligheidshek toe te maak.
Die situasie is verger deurdat sy 'n diabeet is. Volgens haar kan 'n diabeet nie blootgestel word aan stres nie.
Daar was 'n dogtertjie in die omgewing en die het tot haar redding gekom. Die dogtertjie het vir haar 'n appel gegee. Dit het gehelp om haar toestand te normaliseer.
Titus is erg ontstoke oor die voorval. Sy het gesê die veiligheid van die gemeenskap is ter sprake. In dié gemeenskap is klein kindertjies wie se veiligheid deur sulke voorvalle bedreig word.
Sy vra dat opgetree word teen eienaars van losloperdiere. Volgens haar gaan dit nie net oor honde nie, maar ook oor byvoorbeeld varke. Die eienaars van die diere moet verantwoordelikheid neem en dit binne hul erwe hou.
As daar nie opgetree word teen die eienaars nie, moet die diere deur die relevante wetstoepassingsafdeling gekonfiskeer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'