"Hierdie statige dame het nog die mooiste naels, hare en vel. Hoe trots is ons nie op haar nie," spog Jeanine du Preez, haar oudste kleinkind.
Nannie is gebore op Lydenburg op 25 Februarie 1922. Sy was een van vyf susters wat gereeld in kerkkore opgetree het.
Nannie was blykbaar baie bekend vir haar pragtige sangstem en voordra van gedigte. Ongetwyfeld 'n kunssinnige mens.
Nannie ontmoet vir Hansie op Loskopdam waar hy magasynmeester was by die departement van waterwese.
Die twee was ewe hardwerkend en gou baie geliefd onder die gemeenskap - en onder mekaar, want hulle hak die knoop deur op Middelburg op 1 Januarie 1940. Nannie het vir 10 jaar finansies as beroep beoefen by die Departement van Waterwese.
Albei Nannie se kinders, Elsie en Johannes, is in Pretoria gebore. Verskeie verplasings het die gesin die land vol laat trek na Vaalharts, Beaufort-Wes, Robertson, De Rust, Spioenkop en Villiersdorp. Hulle tree af op Witrivier en trek George toe in 1988. Hansie is op 10 April 2011 oorlede ná 71 jaar saam.
Vertel Jeanine: "Ek onthou nog as kind hoe Ouma my geleer het om my eerste koek te bak. Sy het my geleer sing, gedigte voordra en hoe om duidelik te praat. Niks staan vir haar hande verkeerd nie. Ouma en Oupa het nog op 60 aan tennistoernooie deelgeneem. Sy het klere gemaak en ek het haar huis, of selfs kamer waar sy nou in Tuiniqua-tehuis vir bejaardes woon, nog nooit deurmekaar of vuil gesien nie. Ouma is 'n perfeksionis op elke gebied.
"Sy is geliefd onder al haar vriendinne en kerkmense. Ouma Nannie is 'n wenner - ons is so bevoorreg en dankbaar teenoor ons Hemelse Vader om haar in ons lewe te hê tot op 90 jaar."

Vier geslagte: Ouma Nannie Joubert van Tuiniqua-tehuis, haar dogter Elsie, kleindogter Jeanine en agterkleindogters Eloise en Nicoline.