GEORGE NUUS - Twee verdagtes is op Vrydag 9 Julie omstreeks 16:35, by die George-begraafplaas in Yorkstraat vasgetrek ná onwettige drank in hul besit gevind is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die verdagtes (29 en 54) opgemerk toe lede van die polisie se misdaadbestrydingseenheid hul voertuig vir 'n roetine ondersoek afgetrek het.
"Daar is op 'n onbekende hoeveelheid drank beslag gelê en die verdagtes is in hegtenis geneem en aangekla vir die onwettige vervoer van drank ingevolge die huidige rampbestuurswet wat dit verbied," sê Pojie. Die verdagtes is later vrygelaat op 'n dagvaarding om in die hof te verskyn.
Verder is 487 verdagtes tussen Woensdag 7 Julie en Sondag
11 Julie in die Suid-Kaap in hegtenis geneem vir verskeie oortredings. Volgens Pojie het dié operasies onder meer patrollies in misdaadgeteisterde gebiede, met spesiale fokus op dwelm- en drankafsetpunte, onwettige vuurwapens, en die opsporing van gesoekte verdagtes, ingesluit.
"Geïntegreerde magte het die naweek ook op agt onwettige dwelmafsetpunte in hul onderskeie gebiede toegesak en beslag gelê op 'n aansienlike hoeveelheid dagga, Mandrax en drank terwyl hulle verskeie verdagtes in hegtenis geneem het," sê Pojie. Benewens hierdie onwettige afsetpunte, is twee wettige drankafsetpunte in onderskeidelik Oudtshoorn en Thembalethu gesluit en swaar beboet weens die oortreding van die Wet op Rampbestuur deur drank te verkoop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'