Gallery
GEORGE NUUS - Spoedvrate in en om George sal voortaan nog meer op hul hoede moet wees. Nie net gedurende die dag nie, maar in die aand ook.
Die George Herald het onlangs navrae ontvang oor sogenaamde nagkameras wat hul verskyning op ons paaie maak. Dié nagkameras is mobiele kameras wat sporadies in die George-omgewing opgestel en beman word.
Volgens George-verkeershoof, Donovan Saptoe, is die spoedkameras niks nuuts nie.
"Ons gebruik dit al baie lank. Dit is dieselfde kameras wat gedurende die dag gebruik word. In die aand word die flits net saam met die kamera gebruik. Wat wél nuut is, is drie nuwe mobiele spoedkameras wat toegerus is met die nuutste tegnologie. Dis soos om 'n 2016 BMW met 'n 2018 BMW te vergelyk. Al twee doen dieselfde, die een het net nuwer bykomstighede wat jou rit beter maak,"het hy gesê.
Met die nuwe model spoedkameras, wat sedert September 2017 in werking is, kan bestuurders wat die spoedbeperking oorskry reeds 130 m van die kamera af afgeneem word. Die kameras is ook toegerus met raakskerms en flitse met WiFi-verbindings wat 50 m weg van die kamera af geplaas kan word.
Voor die kameras gereed is vir aksie moet dit gekalibreer word. Daarna word sekere verstellings aangebring afhangende van waar die verkeersbeampte die kamera opstel.
Die nuwe kameras beskik oor raakskerms. Foto: Kristy Kolberg
Saptoe sê daar is tans drie van die nuwe kameras in George en die drie ouer modelle wat ook steeds gebruik word. Dié nuwe toerusting beïnvloed egter nie die gebruik van stilstaande kameras nie, maar kan enige tyd op enige plek sy kop uitsteek.
Volgens George-munisipaleit se mediabeampte, Debra Sauer, is daar gedurende Junie sowat 350 spoedboetes, wat met die nagkameras verbind word, in George uitgereik.
*The George Herald recently received inquiries about so-called night cameras that have popped up next to our roads. These mobile cameras are sporadically set up and manned by traffic officers in the George area. According to George Traffic Chief Donovan Saptoe, mobile night cameras have been in use for years, but they have recently acquired three new high tech cameras to make their job slightly easier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'