Update
GEORGE NUUS - Die DA se provinsiale leier, Tertuis Simmers, kap terug in ‘n persvrystelling vroeër vanmiddag, waarin hy voorstel dat die Good-party en die ANC ophou om inwoners se tyd te mors.
Volgens Simmers is die DA gefokus en hul doel is om al drie wyke te wen, sonder enige afleiding. “Laat ons terugkeer na die werk. Daar is werk wat gedoen moet word om dienslewering te herstel wat in hierdie wyke onder Good afgeneem het,” het hy gesê.
Dit volg na beskuldigings van die Good-party, dat die DA betrokke was by kieserregistrasie bedrog. Die ANC het weer glo foto’s aangebied as bewyse dat Simmers tydens die DA se verkiesingsveldtog van ‘n munisipale voertuig gebruik gemaak het. Simmers het ‘n foto na mediahuise gestuur wat daarop dui dat dié bewyse glo vals is, en dat die persoon agter die stuur van die motor onherkenbaar is.
Intussen is partye kliphard besig om kiesers in wyke 16, 20 en 27 te werf, waar tussenverkiesings eerskomende Woensdag, 19 Julie, gaan plaasvind.
‘n Woordvoerder van die verkiesingskommissie het vanmiddag bevestig dat ‘n versoek om ‘n oudit van die kiesersrol wel ontvang is, maar dat die tussenverkiesings steeds plaasvind. “Die kommissie hanteer korrespondensie wat ontvang is en sal so gou moontlik op die Good-party [se klagtes] reageer,” lees die terugvoer.
Volgens Simmers het die DA 'n robuuste en deeglike veldtog in die maande voor die verkiesingsdag gevoer: “Ons geesdrif het opposisiepartye angstig gelaat en hulle skarrel nou om fout te vind,” het hy gesê. “Die OVK in George gaan voort soos beplan vir Woensdag se tussenverkiesing. Party-agente sal die geleentheid kry om enige bekommernisse te opper nadat die stembusse gesluit het en voor die telling Woensdagaand begin.”
Vorige artikel: Good beskuldig DA van kiesersbedrog in Borcherds, George
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’