GEORGE NUUS - Die Good-party vra die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) om 'n oudit van alle nuwe registrasies van kiesers vir die tussenverkiesings in wyke 16, 20 en 27 van stapel te stuur.
Luidens 'n verklaring deur dié party se sekretaris-generaal Brett Herron, het Good prima facie-bewyse aan die OVK gelewer rakende beweerde bedrog met die registrasie van kiesers deur die DA.
Die provinsiale leier van die DA, Tertuis Simmers, het by navraag gesê hul party sal spoedig 'n verklaring oor die aangeleentheid uitreik.
Volgens Herron sluit die bewyse 'n lys name van inwoners van Thembalethu in waar daar geen tussenverkiesing is nie, wat glo op 'n bedrieglike wyse as inwoners van Borcherds geherregistreer is. Borcherds is een van die drie wyke waar tussenverkiesings op Woensdag 19 Julie gaan plaasvind.
"Die mense wat op die lys genoem word, het nog nooit in Wyk 20 (Borcherds) gewoon nie en kwalifiseer nie om in die wyk te stem nie. Die lys sluit hul regte adresse en ID-nommers in," het Herron gesê.
Die ontdekking is blykbaar Saterdagaand gemaak. Good het hul tot die OVK gewend, en onderneem om die saak na die kieshof te neem indien die OVK sou versuim om op te tree.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’