Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die president van die SWD-rugbyunie, Hennie Baartman, het Saterdag 7 April vir die tweede keer 'n griefskrif van Icosa (Independent Civic Organisation of South Africa) en die PBI (Plaaslike Besorgde Inwoners) ontvang.
Dit is oorhandig deur Virgill Gericke van die PBI en David Kamfer van Icosa onder die aansporing van 'n groep ondersteuners van die twee partye wat met plakkate voor die ingang betoog het.
Hulle eis onder meer dat ten minste 60% van professionele rugbyspanne nie-wit moet wees; dat 'n infrastruktuurontwikkelingsplan vir klubs en junior rugby in voorheen benadeelde gebiede ontwikkel word; en dat sodanige herstrukturering by skole plaasvind dat voorheen benadeelde skole op dieselfde vlak as die top "wit" 20 kan deelneem.
SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, moet ook dadelik afgedank word in die lig van die eis van die Universiteit Stellenbosch teen hom. Die eis van R35 miljoen hou verband met universiteitsgeld wat na bewering onregmatig op Maties-rugby gespandeer is terwyl hy die voorsitter was.
SA Rugby moet verder alle kontak verbreek met Frikkie Erasmus (Roux se regsverteenwoordiger wat ook die SA Rugbyunie en sy hoof, Rassie Erasmus verteenwoordig). Dit na aanleiding van vrae wat bestaan rondom 'n kontrak tussen Saru en 'n maatskappy van Frikkie Erasmus wat 'n sportvoedings-produk aan die rugbyunie verskaf. Volgens berigte dra dit die Springbok-logo, waarvoor lisensiefooie betaalbaar is, maar Frikkie Erasmus het glo in die twee jaar wat hy die verskaffer is, nie dié fooie betaal nie.
Icosa en die PBI vra ook dat alle rugby-aangeleenthede waarby Roux en Saru se visepresident, Mark Alexander, betrokke is, ondersoek word.
Verder wil hulle sien dat die volgende franchise-lisensie wat Saru uitreik, aan SWD/Boland gaan. Die twee partye het binne sewe dae terugvoer gevra. Baartman het belowe om die griefskrif aan SA Rugby te oorhandig en dan terugvoer te gee, al is dit net 'n erkenning van ontvangs van die SA Rugby. "Dis nie vir ons 'n las of 'n verleentheid vandag om hierdie petisie te ontvang nie, want mense moet 'n platform hê om hulle boodskap oor te dra, en as ek in julle skoene was, sou ek ook hierdie platform gebruik het. Dankie dat julle opstaan vir mense wat nie hulle stem kan laat hoor nie," het Baartman gesê. Gericke het tydens die oorhandiging gevra dat munisipaliteite in die Wes-Kaap moet begroot vir die ontwikkeling van sport op grondvlak omdat dit help met die bekamping van misdaad omdat dit kinders uit die strate hou en hulle ontwikkel.
Kyk 'n video hieronder.
Icosa-ondersteuners het met plakkate by die stadion se ingang gestaan waar die petisie oorhandig is.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'