GEORGE NUUS - Die president van SWD Rugby-unie, Hennie Baartman het gister ‘n petisie van Icosa en die PBI by die ingang van Outeniquapark in ‘n positiewe gees in ontvangs geneem.
Dit is oorhandig deur Virgill Gericke van die PBI en David Kamfer van Icosa.
Hulle is ondersteun deur ‘n groep ondersteuners van die twee partye wat met plakkate voor die ingang betoog het.
Kamfer het gevra dat hulle binne sewe dae terugvoer wil hê.
Baartman het gesê hy sal aan SA Rugby oorhandig, en sal terugvoer gee, al is dit net ‘n erkenning van ontvangs van die nasionale rugby-unie. “Dis nie vir ons ‘n las of ‘n verleentheid vandag om hierdie petisie te ontvang nie, want mense moet ‘n platform hê om hulle boodskap oor te dra, en as ek in julle skoene was, sou ek ook hierdie platform gebruik het. Dankie dat julle opstaan vir mense wat nie hulle stem kan laat hoor nie,” het hy gesê.
Gericke het gevra dat munisipaliteite in die Wes-Kaap moet begroot vir die ontwikkeling van sport op grondvlak. “Ons wil vir SWD Rugby-unie vra dat u versoeke rig aan alle plaaslike rade in die Wes-Kaap want ons weet dat sport en spesifiek rugby help teen die bekamping van misdaad om ons jong kinders uit die strate te hou en ook om hulle te ontwikkel.”
Gericke het ook gevra dat Jurie Roux, SA Rugby se uitvoerende hoof, geskors word terwyl ‘n eis van die Universiteit Stellenbosch teen hom hangende is. Die universiteit eis R35 miljoen van Roux. Die eis hou verband met universiteitsgeld wat na bewering op Maties Rugby gespandeer is terwyl Roux hul voorsitter was.
SWD Rugbyunie se president, Hennie Baartman (middel), ontvang die petisie van Icosa se David Kamfer en die PBI se Virgill Gericke (regs). Foto’s: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'