GEORGE NUUS - Een van die 11 tronkbendelede wat beskuldig word van 'n gewelddadige aanval in die Mosselbaai-jeugsentrum waarin twee mans dood en sewe ernstig beseer is, het op Maandag 5 Maart in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai skuldig gepleit.
Donovan May, 'n lid van die berugte 26-tronkbende, is een van 11 gevangenes wat elk twee aanklagte van moord en sewe aanklagte van poging tot moord in die gesig gestaar nadat 'n geveg op 29 Maart 2016 in een van die selle tussen die 26's en 28's, uitgebreek het.
Hy is drie jaar tronkstraf opgelê omdat hy aan 'n bende behoort, 25 jaar vir die moord op Bradley Teyise en drie jaar vir die aanranding op Thembelani Quaga.
Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.
Bystandspanne is onmiddellik ontplooi nadat die geveg uitgebreek het.
Theyesi en Abongile Mzola is tydens die aanval dood en verskeie ander gevangenes is beseer.
Die staat beweer die aanval was beplan en dat die slagoffers gesteek en met stomp voorwerpe geslaan is.
Na afloop van die voorval het die polisie op verskeie handgemaakte wapens beslag gelê.
Die ander beskuldigdes, Moses Pikaan, Ricardo van Zyl, Zander Alexander, Winston Waldach, Jason Bothma, Hein Piedt, Jean-Pierre Botha, Roland Jantjies, Gerswin Jantjies en Henrico Lindt, sou na verwagting Woensdag 7 Maart pleit.
Teen druktyd was besonderhede rondom dié verskyning nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'