GEORGE NUUS - Twee werknemers van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, onderskeidelik 29 en 46 jaar oud, is Dinsdag deur die Pacaltsdorp-polisie in hegtenis geneem nadat hulle na bewering betrap is waar hulle diesel aan 'n privaat persoon verkoop het.
Die koper (35) is Maandagmiddag, kort nadat hy die diesel by die twee mans op die grondpad naby die ou Kwelanga Lodge in Hansmoeskraal gekoop het, reeds in hegtenis geneem vir besit van gesteelde eiendom.
'n Bron sê 'n polisieman wat op patrollie was, het die verdagte voertuie op die grondpad opgemerk en kort daarna die koper met sy bakkie afgetrek.
Die twee werkers het met 'n vragmotor met 'n sleepwa waarop die tenk met diesel was gery, en het sowat tien 25 liter plastiekkanne wat agter op die koper se oop bakkie was, volgemaak.
Daar word beweer dat dit nie die eerste keer is dat die mans so 'n transaksie beklink nie, maar dat dit glo al voorheen gebeur het.
Al drie die verdagtes sou na verwagting gister in die George-landdroshof verskyn, maar inligting oor hul hofverskyning was nie teen spertyd beskikbaar nie.
Die provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie het bevestig dat hulle die voorval ondersoek en dat sake van besit van gesteelde eiendom en diefstal geopen is. "Verdere ondersoek het gewys dat die diesel aan die distriksmunisipaliteit behoort. Die ondersoek duur voort."
Herman Pieters, woordvoerder van die distriksmunisipaliteit, het nie op enige van die George Herald se vrae gereageer nie, maar wel bevestig dat die voorval ondersoek word. "Die saak word ondersoek. Ons bedank die publiek en die media vir hul waaksaamheid."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'