Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Hou die ANC en EFF uit die regering in die Wes-Kaap want hulle wil 'n tweederde meerderheid behaal. So het Alan Winde, die DA se premierskandidaat in die Wes-Kaap, Saterdag gesê.
Winde was die hoofspreker tydens die DA se laaste groot verkiesingsaamtrek in die oosstreek by die Conville-gemeenskapsentrum. Hy het kiesers gevra om op 8 Mei vir die DA te gaan stem en gewaarsku oor die gevolge as die ANC en die EFF sou saamspan.
Die geleentheid is deur meer as 2 000 mense van oor die streek bygewoon. Onder die aanwesiges was verskeie senior DA-leiers waaronder Bonginkosi Madikizela, Anton Bredell, dr. Ivan Meyer en Donald Grant.
Teenwoordig was ook verskeie raadslede en voormalige raadslede waaronder Henry Jones.
Tot groot vermaak van aanwesiges het van die senior DA-lede soos Madikizela, Meyer en Bredell gewys hulle is ook behendig op die dansvloer.
Die dienende premier Helen Zille kon nie die geleentheid bywoon nie omdat sy ander verpligtinge gehad het.
Benewens Winde het ander sprekers ook opgetree en verskeie het daarop gewys dat dit Vryheidsdag is. Dit is 25 jaar na die eerste demokratiese verkiesing.
Musi Maimane, die DA-leier, kon nie teenwoordig wees nie. Hy het in 'n videoboodskap gesê na 25 jaar is daar te veel leë beloftes van nasionale regeringskant.
Alan Winde, die DA se premierskandidaat in die Wes-Kaap kyk na 'n videoboodskap van die DA-leier, Musi Maimane. Foto: Eugene Gunning
Winde het in sy toespraak onder meer verwys na die korrupsie wat reeds onder ANC bewind in die land plaasgevind het. Korrupsie in die land is groot en byna R2 triljoen is al van mense gesteel.
Winde het ook benadruk dat die DA gaan probeer om die mag te behou, maar as hy nie daarin slaag om 'n volstrekte meerderheid te behaal nie sal hy nie met die ANC en die EFF saamwerk om aan bewind te bly nie.
Kyk video's hieronder:
Winde het gesê 25 jaar na die begin van demokrasie in Suid-Afrika word daar ernstig besin oor die toestand in die land. Die ANC het die land agteruit laat gaan.
Winde het na die vergadering aan die George Herald gesê die enigste wyse waarop die DA die afgelope 10 jaar sy projekte in die Wes-Kaap kon deurvoer is omdat die party 'n meerderheid by die stembus behaal het.
Alan Winde, die DA se premierskandidaat in die Wes-Kaap, voor links met die leierskap van die DA by die geleentheid Saterdag in die Conville-gemeenskapsaal. Meer as 2 000 mense van oor die streek het die geleentheid bygewoon.
Waar koalisies in stadsrade is, kyk mense na binne en nie na buite nie. Die fokus is nie altyd op dienslewering nie.
Hy sal beslis nie met die ANC en die kleiner partye saamwerk om die mag te behou nie. Die DA het die afgelope 10 jaar hard gewerk om die Wes-Kaap die beste provinsie te maak en hy wil dit uitbou.
Lees 'n vorige artikel: DA en ANC sal nie saamwerk in Wes-Kaap
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'