Advertorial
GEORGE NUUS - Cyrilene Wesso kan skaars glo dat haar droom om eendag haar eie besigheid te hê, waar geword het.
Die 32-jarige skoonheidsterapeut, wat in Pacaltsdorp grootgeword het, het onlangs die derde verjaarsdag van haar salon, Body Beautiful, gevier. Stadsraadslede maak graag van haar dienste gebruik en party dames kom spesiaal van Knysna af om hulle naels by Cyrilene te laat doen.
"Nooit het ek in my wildste drome gedink ek sal dit bereik nie, want daar het so baie negatiewe goed in my lewe gebeur dat dit my mismoedig gemaak het," sê sy. "Maar ek het positief gebly en altyd vir myself gesê ek sal dit maak, ongeag wat mense sê of doen."
Cyrilene het as 20-jarige jong meisie geleer om naels en ander skoonheidsbehandelings te doen en vandag het sy selfs haar eie parfuum, Be Beautiful. Dit maak haar baie trots dat daar soveel minderbevoorregte meisies is wat vandag selfstandig is en hul eie klein besighede het, tot in Groot-Brakrivier.
Cyrilene het haar droom bewaarheid. Vandag is sy nie net 'n besigheidseienaar nie, maar ook 'n finansiële adviseur vir AVBOB, 'n fotograaf vir George Wildlife Park en 'n deeltydse vrywilliger by Metro Ambulans EMS.
"Ek wil graag dankie sê aan al my getroue kliënte wat my deur dik en dun ondersteun. Sonder hulle sou ek dit nie kon maak nie," sê sy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'