LANDBOU NUUS - Boere in Outeniqualand is dankbaar vir die goeie reën, ondanks vloedskade in sekere gebiede, sê Bossie Terblanche, voorsitter van die Outeniqua-boerevereniging.
“Ek dink die meeste damme behoort nou vol te loop. Dis seker nie moontlik dat daar nie ’n vol dam gaan wees nie. Ons is baie dankbaar. Ons het lank genoeg in leë damme vasgekyk.”
Boere in die Kleinplaas-gebied waar hy ’n melkboerdery het, was vir twee dae van die buitewêreld afgesny. ’n Brug in die Varingrivier is oorstroom en beskadig en boere in daardie omgewing moet alternatiewe roetes gebruik.
“Ons wag nou dat die riviere sak sodat ons weer kan aangaan en vragte uitkry. Wat skade betref, dink ek elke boer het maar ’n mate van skade opgedoen, veral waar vars weidings en winterkuilvoer onlangs gesaai is en lande reeds bewerk is. Ek dink baie van die weidings sal in die volgende paar weke oorgesaai moet word weens die nat toestande en saad wat vrot,” sê Terblanche.
Volgens hom kan boere wat reeds koring geplant het ook met spoelskade en grondverlies sit.
“Die hoeveelheid reën was eenvoudig te veel vir die kontoere om te hanteer. Maar oor die algemeen is daar groot dankbaarheid dat ons weer water het.”
'n Dam op Bossie Terblanche se plaas wat binne enkele dae byna vol geloop het.
Geelhoutboom-area
Brian Robertson, ’n groenteboer van die Geelhoutboom-omgewing, sê die sowat 200 mm reën het sy damme volgemaak, maar ook skade veroorsaak.
“Ek het skade in die lande waar ek onlangs koring geplant het. Die plantjies moes vandag opgekom het, maar met die tipe reën wat ons gehad het, het die kontoere nie gehelp nie. Ons sal oor ’n week sien hoe die stand lyk en as dit te swak is, sal ons moet oorplant.”
Dit kan egter nie dadelik geskied nie. “Dit sal waarskynlik eers oor drie weke of ’n maand moontlik wees. My buurman, wat beddings op skuins grond gemaak het om avokado’s te plant, het geweldige spoelslote. Dis maar wat gebeur as die water so vloei.”
Robertson sê sy groentegewasse het egter tot dusver min skade opgedoen.
“Ek het nie nou jong plantjies nie en die ouer plante behoort reg te wees. Ek moet volgende week blomkool plant en die beddings is reeds gemaak, maar dié het ook erg gespoel. Ons werk volgens ’n program. As dit weer reën soos voorspel word, sal ons nie kan plant nie. Dit het ’n impak op die program.”
Robertson bly dankbaar ten spyte van die uitdagings. “Dit bring maar sy probleme, maar ons het vol damme en daarvoor is ek baie dankbaar.”
'n Brug in die Varingrivier is oorstroom en beskadig. Foto: Bossie Terblanche
Dean Barnard, ‘n vrugteboer van Oppie Plaas Boerdery in Waboomskraal, is ook uiters verlig oor die reën en dat hulle nie groot skade gely het nie. “Daar is paaie wat bietjie spoelgate het. Dit gaan net ’n trekker en skraper en bietjie gruis vat om dit reg te maak. Verder het daar jong boompies omgewaai of die stutwerk lê bietjie skuins, maar dis goed wat
ons binne twee weke kan herstel. Ons kan die bome net weer opdruk en vasstamp.”
Hulle het tussen 380 mm en 400 mm reën gehad. “Dit was geweldig droog hier. Ek kan net vir die Here dankie sê vir die reën en die minimale skade. Vyf van ons waterpompe het op droë grond gelê en ons damme het net bietjies water in gehad. Die meeste van daardie damme is op hierdie stadium tussen half en driekwart.
“Die reën gaan ons ’n hengse klomp uitgawes spaar in die vorm van elektrisiteit vir boorgate wat aangeskakel sou moes word en die oorpomp van water van die een dam na die ander in ’n uitdagende jaar van droogte en duur diesel, asook met die oorloë wat die kunsmispryse nou lig. Dis ’n groot uitkoms. Ons grond is weer lekker nat en ons glo die ondergrond behoort ook goed water te gekry het.”
'n Dam op Dean Barnard se plaas waar ongeveer 400 mm reën geval het.
'n Boom versper die pad naby Oppie Plaas Boerdery. Foto: Dean Barnard
Stormskadebepaling onder boere
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het alle boere versoek wat deur die storms en oorstromings geraak is om die stormskadebepalingsopname vir Mei 2026 te voltooi.
Die opname kan op ’n rekenaar of mobiele toestel voltooi word by hierdie skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’