Prof. Laetitia van Dyk is op 12 Mei eenparig tot voorsitter van die Absa KKNK se raad van direkteure verkies. Sy is tans hoof van die Sentrum vir Leierskapstudies by die Bestuurskool van die Universiteit Stellenbosch (US) en sal vanaf 1 Junie die voorsitter van die Departement van Ondernemingsbestuur aan dieselfde universiteit wees.
Prof. van Dyk, wat sedert 24 November 2006 op die direksie van die Absa KKNK dien, sê sy sien baie uit na haar nuwe rol by die fees. "Die Absa KKNK lê my na aan die hart en dit is vir my 'n voorreg om die leidende rol wat dié kunstefees oor die afgelope 17 jaar speel, verder uit te bou. Die kunste kom bymekaar by die Absa KKNK en oor die volgende jaar sal dit my fokus wees om met al ons verskillende rolspelers te besin oor die bevordering van die kunste," het sy gesê.
Prof. Russel Botman, uittredende voorsitter, het prof. van Dyk alle sterkte met haar aanstelling toegewens. "Dit was vir my ’n voorreg om gedurende die afgelope tyd voorsitter van die direksie van die Absa KKNK te wees. Die direksie is ’n uitstekende span denkende leiers van die kunste in Suid-Afrika. Ek is seker dat prof. van Dyk ewe veel vreugde in haar termyn as voorsitter sal hê," Prof. Botman tree uit as beide voorsitter en lid van die direksie, om sy aandag te vestig op die belange van die US, waar hy onlangs as rektor heraangestel is.
"Met leierskap as spesialisveld en uitgebreide besigheidsondervinding by ondermeer Absa as Groep Uitvoerende Direkteur, is prof. van Dyk uitstekend toegerus om die Absa KKNK tot nuwe hoogtes te lei," sê Brett Pyper, Uitvoerende Hoof van die Absa KKNK.
Prof. Van Dyk is die eerste vrou wat as voorsitter van die Absa KKNK aangewys word. Die posisie is egter nie onbekende terrein vir haar nie en sy was voorheen ook die eerste vroue voorsitter van onder meer die Instituut van Bankiers in Suid-Afrika en die Bankmed Trusteeraad.
Sy is die vyfde voorsitter in die geskiedenis van dié kunstefees en was tot haar verkiesing aan stuur van die Absa KKNK se Menslike Hulpbron- en Vergoe-dingskomitee en lid van die Uitvoerende Komitee.
Prof. Botman, wat die afgelope vyf jaar voorsitter van die direksie was, se voorgangers was Nic Barrow (1994 tot 1999), Jans Rautenbach (1999 tot 2001) en David Piedt (2001 tot 2006).
Die Absa KKNK word vanaf Saterdag 31 Maart tot Saterdag 7 April aanstaande jaar vir die 18de keer in Oudtshoorn aangebied.