HERITAGE NEWS - Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis het gedurende die naweek van 7 en 8 Augustus ’n kongres op Hoekwil aangebied met die tema 'Die rol van die vrou in kultuurgeskiedenis'.
Een van die 15 sprekers was dr. Okkie Stander van George, wat gefokus het op die belangrike rol wat vroue tydens die volstruisveerbloeitydperk in die Klein-Karoo gespeel het.
Sy lesing, getiteld, 'Die rol van die vrou in kultuurgeskiedenis gedurende die volstruisveer-bloeitydperk in die Klein-Karoo met spesiale verwysing na die eerste twee stammoeders van die plaas Bakenskraal', het onder meer die lewens en nalatenskap van Adriana Catharina (Adi) le Roux en Lucia Christina Sophia le Roux belig.
Die eerste stammoeder van Bakenskraal
Die eerste eienaar van die plaas Bakenskraal was John le Roux. Hy het die plaas en huis as trougeskenk ontvang en ná sy huwelik met Adriana Catharina (Adi) Smalberger op 1 September 1897 het die egpaar hulle daar gevestig.
Adi het op die plaas Sandfontein naby Albertinia grootgeword.
Die huis is ongelukkig te naby aan die Olifantsrivier gebou, met die gevolg dat vogtigheid dit met verloop van tyd onbewoonbaar gemaak het. Die boonste verdieping is nooit as woonruimte gebruik nie, maar het as stoorplek gedien.
Uit John en Adi se huwelik is vier kinders gebore: Rose, Elizabeth, Maria en Johannes. Adi het die volstruisveerbedryf se bloeitydperk vanaf die opkoms daarvan tot die ineenstorting in 1913 beleef.
Volgens Stander was Adi se invloed veral op die gebied van nie-tasbare kultuur, met opleiding as een van haar belangrikste prioriteite. Sy het sterk geglo dat opleiding die grondslag van sukses is – in die boerdery sowel as in die sakewêreld.
Sy het daarom daarop aangedring dat haar seun, Johann, nie bloot op tradisionele kennis wat van geslag tot geslag oorgedra is, moes staatmaak nie. Hy moes op hoogte wees van die jongste ontwikkelinge in die landbou.
Johann het sy skoolloopbaan op Oudtshoorn begin, maar Adi het ná graad 10 besluit om hom na die bekende Suid-Afrikaanse Kollegeskool (SAKS) in Kaapstad te stuur.
Dieselfde waarde het sy aan haar dogters se opvoeding geheg. Sy het spesiaal na Kaapstad gereis om ’n geskikte goewernante vir Rose, Elizabeth en Magdalena te vind. Vir Adi was opvoeding dus nie slegs ’n saak vir seuns nie, maar ’n belegging in die toekoms van die hele gesin.
Die troudag van John en Adriana op 1 September 1897. Foto: Verskaf
Adi het ook groot waarde aan voorkoms en sosiale etiket geheg. Haar dogters moes netjies aangetrek wees en vir spesiale geleenthede is elegante drag, onder meer tabberds vanuit Europa, bestel.
Haar invloed het egter veel verder gestrek. Adi het die kuns om belangrike gaste te onthaal, vervolmaak en het onder meer die Prins van Wallis, Prinses Alice en Cecil John Rhodes op Bakenskraal ontvang.
Deur haar leefwyse en voorbeeld het sy ’n nuwe sosiale en kulturele standaard help vestig wat geleidelik na ander families in die Klein-Karoo oorgespoel het.
Haar invloed was ook sigbaar in die tasbare kultuur. Sy het onder meer ’n meubelmaker uit Kaapstad laat kom om meubels vir die sogenaamde volstruispaleis te vervaardig.
Die tweede stammoeder
Die tweede stammoeder van Bakenskraal was Lucia Christina Sophia Malan, afkomstig van Fort Beaufort. Sy was die vrou van Johann le Roux en ’n suster van dr. Nico Malan.
Johann se vader het die huis en 75 morge, oftewel ongeveer 64,25 hektaar, ter waarde van £5 000, as trougeskenk aan die jong egpaar gegee.
Teen dié tyd was die eerste volstruispaleis reeds buite gebruik en is ’n nuwe een in 1913 gebou. Ná hulle huwelik in Augustus 1928 het Johann en Lucia hulle op Bakenskraal gevestig.
Lucia was ’n dinamiese vrou met ’n sterk persoonlikheid en visie. Dit was vir haar ’n besondere uitdaging om die plek van haar formidabele skoonma, Adi, vol te staan. Sy was ’n gekwalifiseerde onderwyseres en het ook kwalifikasies in musiek gehad.
Sy het die tradisionele manswêreld op ’n ander vlak betree toe ’n vakature op die skoolraad ontstaan het – die instelling wat vandag met die distrikskantoor vergelyk kan word. Sy het aansoek gedoen en is, danksy haar opleiding en bekwaamheid, aangestel.
Die eerste huis op Bakenskraal. Foto: Verskaf
Dit was die begin van verskeie eerstes. Met haar leierskap en visie vir die vinnig groeiende gemeenskap het sy die eerste vrou geword wat tot die Kollegeraad verkies is. Haar opleiding as onderwyseres en haar kennis van musiek het haar in staat gestel om ’n betekenisvolle bydrae te lewer.
Lucia het ook geglo dat vroue aan die gemeenskap blootgestel moes word sodat hulle die kennis en ervaring wat hulle opdoen, weer binne hul gesinne kon aanwend. Sy het haar daarom beywer vir die stigting van die plaaslike Vroue-Landbouvereniging (VLV)-tak.
Een van haar belangrikste bydraes tot die snelgroeiende landbougemeenskap was haar betrokkenheid by die instelling van ’n landbouskou, waaraan sy in samewerking met mans uit die gemeenskap meegewerk het.
’n Nalatenskap vir toekomstige geslagte
Die ineenstorting van die volstruisveerbedryf in 1913 het ’n einde aan ’n besondere ekonomiese tydperk gebring, maar die invloed van die vroue wat dié era beleef het, het nie daarmee verdwyn nie.
Die beleggings wat Adriana en Lucia le Roux in opleiding, kultuur, gemeenskapslewe en gesinsontwikkeling gemaak het, het lank ná die einde van die volstruisveerboom voortgewerk.
Volgens Stander het die twee stammoeders van Bakenskraal ’n nuwe rigting vir vroue in die Klein-Karoo help oopbreek. Deur hul opvoeding, leierskap, sosiale invloed en betrokkenheid by die gemeenskap het hulle ’n leefwyse gevestig wat nie net hul eie gesinne nie, maar ook die breër gemeenskap beïnvloed het.
Hul verhaal herinner ons daaraan dat kultuurgeskiedenis nie slegs deur groot gebeurtenisse of ekonomiese ontwikkelinge gevorm word nie. Dit word ook in huise, gesinne, skole, gemeenskappe en die waardes wat van een geslag na die volgende oorgedra word, geskep.
Adriana en Lucia le Roux se nalatenskap leef daarom voort as ’n voorbeeld van hoe vroue ’n bepalende rol in die kultuurgeskiedenis van die Klein-Karoo gespeel het – en steeds ’n inspirasie vir toekomstige geslagte kan wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’