GEORGE NUUS - "Selfs manne wat hulself nie as Christene beskou nie, kom by 'n punt waar hulle vra: 'Wat as...?'" Só vertel Ockie Taylor tydens 'n gesprek oor sy splinternuwe boek, Oorstaptyd, wat tans by die Soteria-gemeente beskikbaar is.
Die onsekerheid oor die dood en dit wat daarna kom, is 'n onderwerp wat almal op 'n stadium in hul lewe diep raak. In Oorstaptyd bring Taylor al die verwysings in die Bybel oor hierdie onderwerp bymekaar.
"Hierdie boekie is dun, maar dit bevat alles wat die Bybel oor die onderwerp sê. Ek wou nie my eie interpretasie hier gee nie - ek verklaar net wat die Here sê," sê Taylor.
"Mense loop met daai ding binne hulle. Is daar iets soos lewe ná die dood? Baie ongelowige mense glo wanneer jy dood is, is jy dood. Christene is ook geneig om soms so te voel."
Taylor beklemtoon egter dat geloof nie bloot 'n ontsnaproete is wanneer 'n mens in die moeilikheid beland nie. Hy praat eerder oor die belangrikheid van 'n persoonlike verhouding met die Here.
"Die Here is nie 'n nood-apteek nie, Hy is 'n geneesheer. Ons praat hier van 'n verhouding."
Volgens Taylor is dit juis hierdie persoonlike verhouding met God wat mense moet verstaan en nastreef. "Mense moet besef 'n persoonlike verhouding met God is nodig."
Oorstaptyd is teen R40 per boek by die Soteria-gemeente se kerkkantoor in Victoriastraat te koop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’