GEORGE NUUS - Coen Coetzee (82) loop deesdae nêrens meer buite sy besigheid in Buitekantstraat, George Industria, sonder sy getroue hond nie.
"Hy is effens ongeskik, maar ek is veilig," het Coetzee gesê tydens 'n besoek van George Herald.
Die laaste voorval vroeg verlede week het hom ontsenu en hy voel dit is tyd om mense te waarsku.
"Hierdie keer was dit nie ek wat my foon verloor het nie, maar 'n kliënt van die besigheid langs myne," het hy gesê. Volgens Coetzee stop mense graag iewers langs die pad wanneer hulle 'n besigheid soek, soos wat met die laaste geval gebeur het. "Die skollies pluk die deure oop en gryp die selfoon. Hulle hardloop vinnig weg. Daar is nie tyd vir skrik nie."
Die voorval is beaam deur Kobus Mouton van JF Mouton Motors, wat langs Coetzee se karavaanverhuringsbesigheid geleë is. Skuins oorkant hul persele is 'n skrootmetaalwerf, en dit is dáár, by die stopstraat op die hoek, waar al die nonsens plaasvind, aldus Coetzee en Mouton.
Coetzee se selfoon is twee keer binne 18 maande van sy lyf afgegryp, en sy vrou het ook hare so verloor. "Nee, ek het nie by die polisie gaan aanmeld nie," antwoord hy 'n vraag. "Hulle kan tog niks maak nie. Dis woerts warts en die ouens is weg."
Aanvalle
In 'n onverwante voorval het Stefan Fourie laat weet dat hy twee keer by twee verskillende areas in George Industria aangeval is. In die mees onlangse voorval is Fourie blykbaar met messe gedreig terwyl hy by 'n Go George-busstop (Rand 13) vir 'n bus gewag het.
Twee maande voor dié voorval is hy glo met 'n panga deur mans wat sy selfoon wou hê, naby 'n winkel in Nelson Mandela-boulevard aangeval.
Ofskoon Fourie probeer het om die polisie te bel, is die voorvalle nie amptelik by Conville-polisie aangemeld nie.
Stefan Fourie het wonde opgedoen na ’n beweerde panga-aanval in George Industria.
Busstop-voorval
Terugvoer op sy navraag op die Go George Facebook-blad is bevestig dat voorvalle by 'n busstop onder die polisie se aandag gebring moet word, en dat Go George dit slegs hanteer indien hy op 'n bus aangeval is.
In hul terugvoer aan George Herald het Go George egter gesê dat die voorval nie aangemeld is nie. Die Facebook-gesprek met Fourie was, in hul verweer, meer in die lyn van 'n algemene navraag as kommunikasie oor 'n spesifieke voorval.
Go George se terugvoer is soos volg: "George-munisipaliteit het met die Go George-bedryfs-, kliëntediens- en sosialemediaspanne opgevolg oor die kwessies wat geopper is. Geen voorval van dié aard is via hierdie kanale by Go George aangemeld of aangeteken nie, en Go George is nie bewus van enige klagtes rakende veiligheidskwessies in die nywerheidsgebied nie."
Volgens Fourie is rowers op soek na selfone omdat skrootmetaalwerwe geld betaal vir die binnekant van 'n selfoon. Hy het gelukkig nie ernstig seergekry tydens die voorvalle nie, maar wil ook mense waarsku om uiters versigtig in George Industria te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’