Snyman sê sy hoop hierdie Fiësta moedig nóg meer feesgangers aan om vanjaar Uitkampteater te beleef. “Die aanbod is groter, met meer kunsvorme en genres en ook verskeie stukke vir kinders, die perfekte manier om hulle aan teater bekend te stel”, sê sy.
Naudé van der Merwe, sameroeper van die Fiëstapaneel, sê die Blou Stoel word jaarliks toegeken aan ’n vertolking, produksie, kuns-inisiatief of projek wat by ’n fees te sien was en nie noodwendig in enige van die bestaande kategorieë van die Fiëstas pas nie. “Dit kan enigiets wees wat die paneel se aandag trek.”
“Die Blou Stoel is wonderlike aanmoediging vir Uitkampteater, wat ten doel het om ’n eksperimentele speelgrond vir gevestigde en nuwe talent te wees. Die KKNK is verbind daartoe om innoverende platforms soos hierdie te skep waar meestal onbekende – maar hoogs talentvolle – kunstenaars aan gehore bekendgestel kan word. Dit is ’n projek waarvan die bedryf hopelik nog baie vrugte in die toekoms sal kan pluk”, sê Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK.
Uitkampteater het ’n tweede Fiësta ontvang, met Faith Kinniar wat as beste opkomende kunstenaar vir haar rol in Valencia beloon is.
“Wie sou kon dink dat die eerste probeerslag om ’n musiekblyspel aan te pak in ’n toekenning sou eindig? Ek skryf dit toe aan mense wat weet hoe om te netwerk, om die span bo die individu te stel en seker te maak dat almal na die dieselfde boei toe roei. Ál die spelers het die gees verryk en ek is baie bly om deel van iets só wonderlik te kon wees”, sê Mynie Grové, wat oorspronklike musiek vir dié produksie geskryf het.
Dawid Minnaar het die Fiësta as beste manlike byspeler vir sy rol in Die huis van Bernarda Alba ontvang. Dié produksie is ondersteun deur die Spaanse Ambassade in Suid-Afrika. Beide Heidi en Die huis van Bernard Alba is deur Kunste Onbeperk vervaardig en is by die US Woordfees te sien. Charl du Plessis se Boogie Woogie Big Band het die Fiësta vir beste musiekgedrewe produksie (arena) ontvang.
Die kykNET Fiëstas is op Donderdag, 23 Februarie in die Kunstekaap-teaterkompleks in Kaapstad oorhandig en regstreeks op kykNET (kanaal 144 op DSTV) uitgesaai.