SPORT - Die Dotsure SWD Arende staan Saterdag 27 Junie voor hul grootste uitdaging van die 2026 Carling Curriebeker Eerste Divisie wanneer hulle die Griffons in Welkom pak.
Ná twee indrukwekkende bonuspunt-oorwinnings oor die Luiperde en Valke, is dit nou eerste teen tweede in ’n wedstryd wat reeds vroeg in die seisoen groot betekenis in die titelwedloop kan inhou.
Beide spanne het die maksimum tien ligapunte ná twee rondes ingesamel en is nog onoorwonne.
Die Griffons het hul veldtog sterk begin met oortuigende oorwinnings oor die Border Bulldogs en die OP Olifante, terwyl die Arende hul aanvallende vermoë bewys het met nege drieë teen die Luiperde en nog sewe teen die Valke.
Vir die Arende sal die uitdaging hierdie week heeltemal anders wees.
Waar die Luiperde en Valke geleenthede gebied het om uit gebroke spel aan te val, is die Griffons bekend vir hul fisieke voorspelers, sterk vaste fasette en vermoë om druk oor 80 minute vol te hou.
Dit beteken die Arende sal op hul dissipline en spelbestuur moet staatmaak.
Heyneke Meyer sal tevrede wees met die groei wat sy span sedert die begin van die SA Beker getoon het. Die groot verbetering teen die Valke was die span se gestruktureerde spel en beter dissipline. Ná die dramatiese einde teen die Luiperde, waar drie geelkaarte die Arende byna duur te staan gekom het, was hul beheer teen die Valke veel beter.
Die losskakel Divan du Toit en die ervare Fred Zeilinga sal waarskynlik sleutelrolle speel om die wedstryd se tempo te beheer. Voorlangs sal kaptein Carel du Preez en Janus Venter die voorbeeld moet stel, terwyl spelers soos Nathan Meilhon, Ulrich Wahl en Xavier Swartbooi weer na geleenthede sal soek om die Griffons se verdediging oop te breek.
Die Arende se skrum en dryfmaal was tot dusver van hul grootste wapens, terwyl die impak van die plaasvervangers in albei wedstryde ’n belangrike verskil gemaak het.
Welkom is tradisioneel een van die moeilikste plekke om ’n oorwinning te behaal. Indien die Arende egter hul huidige vorm kan voortsit en die druk hanteer, kan hulle Saterdag ’n belangrike tree gee in hul strewe na ’n tuis-halfeindstryd vas te maak.
Die wedstryd skop 15:00 af Saterdag op Down Touch Investments Stadium in Welkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’