GEORGE NUUS - Letitia van Blommenstein (89), 'n inwoner van Tuiniqua, het onlangs afskeid geneem van personeel van Stanmar George nadat sy vir meer as 20 jaar die potplante by dié motorhandelaar versorg het.
Stanmar was 'n kliënt van haar en haar oorlede man, Willem, se klein onderneming wat kontrakte gehad het vir die voorsiening en versorging van potplante by besigheidspersele.
Hulle het dikwels plante gebruik wat hulle self tuis gekweek het met Letitia se groenvingers wat bygedra het tot hulle sukses.
Tot ses maande gelede het sy weekliks op eie houtjie Stanmar toe gery om die plante daar te gaan versorg, maar sedertdien het haar oudste seun, Burger, haar soontoe geneem tot sy onlangs halt geroep en die tuig uiteindelik by haar laaste kliënt neergelê het.
Ronel Weber, die handelaarshoof, sê hulle gaan "tannie Blommetjie" baie mis.
"Van Stanmar se kant wil ons vir haar net baie dankie sê vir al die jare se toewyding en liefde waarmee sy die plante hier by ons versorg het.
"Daar is 'n groot lewensles te leer by tannie Blommetjie - ongeag die weer, winter, somer, sonskyn of reën was sy weekliks hier om na die plante om te sien," sê Weber.
Letitia sê sy doen nog naaldwerk en brei komberse. "Ek is maar altyd besig. Ek kan nie net so sit nie."
Sy woon is al vir 25 jaar by Tuiniqua waarvan die laaste 15 jaar op haar eie nadat Willem haar ontval het.
Die 89-jarige 'Tannie Blommetjie' (naasregs) saam met personeel van Stanmar George, van links: Nita Harris, Celeen Cronjé, Alvino Julius, Shardika Olislager, Ronel Weber en Corrie van der Merwe. Die foto is geneem tydens haar laaste besoek om vir oulaas die plante nat te gooi. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’