GEORGE NEWS - 'n Mal gejaag van motors in Knysnaweg - enigiets na donker - ver bo die spoedgrens. Dit is waarmee inwoners van Levallia en Kraaibosch moet verlief neem.
"Behalwe vir die ongelooflike lawaai waarmee ons moet deal, is dit ook baie, baie gevaarlik," het Jacobus Gertse, 'n inwoner en George-raadslid, gesê. "Dit het al lewens gekos."
'n Alternatiewe plek vir renne, en beter toepassing van die dorpswette, is wat Gertse en inwoners van Levallia vra. "Die ouens wissel tussen die industriële area en Knysnaweg. Ons vermoed hulle hou die radiofrekwensies van die wetstoepassers dop."
Annelien Kirsten skryf aan George Herald dat onwettige straatrenne al jare lank 'n probleem is vir inwoners van Kraaibosch Country Estate. "Die geraas kan mens nog hanteer, maar dis die roekeloosheid wat ons ontstel. Hoeveel mense moet nog hul lewens verloor of ernstig beseer word?"
Sy sê dit raak haar persoonlik, aangesien haar broer op 18 in 'n motorongeluk oorlede is ná 'n dronk bestuurder teen hoë spoed oor 'n 4-rigtingstop gejaag het.
"Ek verstaan jongmense wil motorsport beoefen, maar dit is nie die tyd of plek nie. Dit is ook nie meer sport as daar gedrink en dan bestuur word nie. Mense se lewens is in gevaar."
Skemertyd
Die jongste voorval het op Sondag 14 Junie plaasgevind toe Kirsten en haar suster, Thea van Schalkwyk, omstreeks 17:30 by Outeniqua Spar was.
"Ons het gesien hoe die manne met hul motors in die parkeerarea naby die gimnasium bymekaarkom. Die probleem is hulle staan en drink en klim dan met die bottels drank in die motors. Ons het die polisie gebel, maar daar was geen antwoord nie."
Sy vertel verder dat hulle die volgende aand, net voor 20:00, gesien het hoe twee motors teen 'n geweldige spoed verbyjaag.
"Dit was al donker, daar was voetgangers op die pad en baie verkeer. Die motors het by Pine Lodge se robot gedraai en weer teen 'n ongelooflike spoed terug in die rigting van Wildernis gejaag. Dit was duidelik 'n straatren."
"Toe ons terugry na Kraaibosch sien ons sowat 20 motors by die Glenwood-gholfbaan staan. Almal het donker klere aangehad en die motors se ligte was af. Ons het weer die polisie gebel. Hulle is toe uitmekaar gejaag en het in Levallia ingedraai."
Volgens Kirsten het sy daarna verneem dat die groep die aand van 16 Junie weer by die Engen-garage in Knysnaweg bymekaargekom het.
Wetstoepassing
"Die George-munisipaliteit keur nie onwettige straatrenne goed nie en bly diep bekommerd oor die gevaar wat dit vir openbare veiligheid inhou," sê mediaskakelbeampte Debra Sauer.
Volgens haar oortree deelnemers die padverkeerswetgewing en stel hulle hul eie lewens, sowel as dié van ander padgebruikers en voetgangers, in gevaar. "Sulke optrede kan lei tot boetes, dagvaardings en selfs strafregtelike aanklagte."
Die munisipaliteit doen 'n beroep op betrokkenes om die aktiwiteite onmiddellik te staak en die wet te gehoorsaam.
Sauer sê gesprekke oor 'n moontlike veilige en wettige terrein vir motorsport duur voort, maar enige fasiliteit sal aan streng wetlike, veiligheids-, omgewings- en grondgebruikvereistes moet voldoen voordat dit goedgekeur kan word.
Knysnaweg is ’n gewilde plek vir onwettige straatrenne. Foto’s: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’