GEORGE NUUS - Vyftig jong rugbyspelers van die distrik is vandag met sterre in hul oë op pad na Bloemfontein vir die Cravenweek-toernooi vir o. 13-rugbyspelers wat Maandag 29 Junie afskop.
Vir sommige ouers is die finansiële implikasie om hul seuns se droom te verwesenlik egter 'n absolute nagmerrie.
Om jou seun se toernooikostes te dek kos 'n stywe/stewige R11 220, wat verblyf, reis, kos en klere insluit. In die huidige ekonomiese klimaat is dit eenvoudig nie 'n bedrag wat vir baie ouers maklik haalbaar is nie.
Die SWD-Cravenweekspan open Maandag met 'n wedstryd teen die Blou Bulletjies. Menigte ouers hou asem op met die hoop dat hulle seuns raakgesien word vir borgskappe by topskole regoor die land.
Chris Bhell, pa van Tayrequin Bhell (13), 'n leerder van St Mary's Primêr, wat vir die Cravenweekspan gekies is, moes bloed sweet en bid om sy seun in die span te hou.
"As dit nie vir die spanbestuurder, Elton Titus, was wat vir my moed ingepraat het nie, weet ek nie wat ons sou doen nie," het Bhell gesê.
'n Ou rugbyvriend en HUB van die Pumas, Marius van Rensburg, Tigers Academy se eienaar Riaan Lanlaey, Alister Simpson van RAW Projects, Crusaders se klubondersteunersgroep en individuele lede, die Community Shop in Maraiskamp en 'n borgskap van SCDF Group vir elke spanlid, het uiteindelik gesorg dat Tayrequin saam met sy spanlede na Bloemfontein kan vertrek.
"Dit was 'n baie emosionele storie, want ek het tydens Covid my werk verloor," vertel Bhell. "'n Week gelede het ek gedink ek gaan Tayrequin moet onttrek, maar toe het borge na vore gekom. Dit was 'n ongelooflike blessing."
Tayrequin Bhell (13, links) en Juandrè Moobi (13), beide van St Mary's Primêr, is onderskeidelik vir die Cravenweek- en Akademiespan gekies. Hulle het verlede Saterdag hulle klere vir die toernooi saam met die res van die spanlede in Hartenbos ontvang.
Hengse druk
Jonathan Moobi, pa van Juandrè Moobi (13) wat gekies is vir die Akademiespan, beaam die ongelooflike druk op ouers om geld bymekaar te skraap vir hierdie nasionale toernooi.
"Hierdie is 'n baie uitdagende storie wat ek en my vrou nou moet aanpak, want dit is 'n redelike groot bedrag wat ingesamel moet word. Hulle het die kostes afgebring na R10 000, maar ek en my vrou het nog net R3 000 inbetaal.
Juandrè Moobi (13, middel) van St Mary's Primêr is gekies vir die Akademiespan.
"Ons het geen borgskappe nie, daar is niemand wat ons help nie, ons gebruik my maandelikse salaris wat ek net-net mee uitkom, om betalings te maak op Juandré se toernooi."
"Ek het probeer om 'n reëling te tref om dit af te betaal, maar die geld moet alles teen 30 Junie in wees. Dit is waar ons nou staan. Ons sukkel. Ons het nog 'n dogter in matriek - so ons draai redelik vas. Ons seun het hard gewerk om te kom op daai bus, maar vir ons is dit nou 'n reuse-uitdaging om hom daar te hou."
St Mary's Primêr, waar beide Juandrè en Tayrequin skoolgaan, het vandeesweek 'n fondsinsameling vir die seuns gehou.
Ondersteuning
Die gewilde akteur en 'n voormalige inwoner van Heidelberg, Maurice Paige, het met 'n onlangse Facebook-inskrywing baie kommentaar ontvang rondom hierdie einste kwessie. Hy reken SWD-rugby help wel, maar hul hulp is maar min, en die geld wat per speler benodig word is 'n stewige bedrag.
Paige voel daar moet groter druk op die minister van sport, Gayton MacKenzie, wees, om sulke toernooie finansieel te ondersteun.
"Ons agtergeblewe mense se talente moet geëer word en daar moet meer fondse beskikbaar wees om te help. Ons mense leef vir jare van hand tot mond om ons kinders 'n beter lewe te gee en die regering en unies kan hier help," het hy gesê.
Wat sê SWD?
Volgens SWD-rugbypresident Ben Brinkhuis, word borgskap en finansiële ooreenkomste met skoleverenigings bevestig en kan SWD nie kommentaar lewer oor borgskappe nie, aangesien dit konfidensiële inligting is. Oor 'n navraag rakende die koste van die toernooi is George Herald na die skole verwys.
"Die toernooie word deur skole aangebied, en hulle bepaal enige bedrae, so voel vry om hulle te kontak," het Brinkhuis gesê. Op 'n vraag wat die SWD-rugby doen wanneer 'n kind baie talent het, maar nie geld nie, het Brinkhuis gesê: "Ons probeer geen kind agterhou wat gekies is nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’