SUID-KAAP NUUS - 'n Besoek aan die akwarium in Port Elizabeth was net die regte medisyne vir die 14-jarige Minke Janse van Rensburg om die swemseisoen verlede Saterdag op Oudtshoorn met mening te begin.
Dié jong swemsensasie het by die Eden A-ligabyeenkoms in die N.A. Smit-swembad twee nuwe junior Afrika-downsindroomrekords losgeswem.
Minke het Mariza Holdt se 100 m- borsslagrekord, wat in 2010 opgestel is, met nagenoeg drie sekondes verbeter met 'n wentyd van 2:15.01.
Dit was 15 sekondes vinniger as haar vorige persoonlike beste tyd vir dié item. Sy het later die dag ook 'n nuwe 200 m individuele wisselslagrekord losgeswem toe sy haar vorige beste tyd met ongeveer agt sekondes verbeter het.
Minke hou tans drie junior downsindroomwêreldrekords. Met hierdie twee nuwe prestasies spog sy nou met 15 Afrika-rekords waarvan een 'n ope rekord is en twee as deel van 'n ope aflosspan opgestel is.
En Minke se swemseisoen het maar pas begin.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo nuus'