Update
GEORGE NUUS - Die 16-jarige swemsensasie Minke Janse van Rensburg, het verlede naweek twee downsindroom senior wêreldrekords by die SA kortbad nasionale swemkampioenskap in Pietermaritzburg gebreek en altesaam sewe goue medaljes ingepalm.
Minke het Vrydag 12 Augustus die downsindroom 200 m-vryslag senior wêreldrekord in 2 minute 56.97 sekondes gebreek, en Saterdag 13 Augustus die downsindroom 50 m senior wêreldrekord in 34.26 sekondes.
Minke deel in die S14 kategorie vir intellektueel gestremdes en het uitgeblink in 50 m-borsslag, 100 m- en 200 m-IM, 50 m-vlinderslag, 50 m-, 100 m- en 200 m-vryslag.
Minke is tans besig met voorbereidings vir die 2022 Wêreldkampioenskap wat op 15 Oktober in Albufeira, Portugal afskop.
"Sy ontvang afrigting van Franna Vorster by Garden Route Swim Centre. Ek is opgewonde oor Minke se prestasie en tye by hierdie onlangse gala," het haar pa, Hennie Janse van Rensburg, gesê.
"Sy was in die 100-m IM (4 X 25 m-kombinasie van al vier slae) slegs 0,4 sek vanaf die senior wêreldrekord.
Minke Janse van Rensburg (16) saam met Lara van Niekerk, 'n dubbel goue medaljewenner van die onlangse Statebondspele in Birmingham, Engeland. Minke en Lara het sy aan sy geswem tydens die kampioenskap in Pietermaritzburg verlede naweek.
Minke het as 13-jarige swemmer nasionale kleure verwerf en Suid-Afrika by die negende downsindroom wêreldswemkampioenskap verteenwoordig waar sy die jongste swemmer was.
"Sy het vier maal saam met swemmers dubbel haar ouderdom op die podium verskyn en twee goue en twee silwermedaljes huis toe gebring," het Hennie gesê.
"Sy hou tans vier alle ouderdomme wêreldrekords en verbeter dit gereeld soos wat sy sterker word."
Minke Janse van Rensburg en haar afrigter, Franna Vorster op die podium.
'n Welverdiende ruskans.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'