GEORGE NUUS - Georgiete het uitstekend presteer by Swem Suid-Afrika se nasionale kortbad-kampioenskap wat van 15 tot 19 September in Pietermaritzburg gehou is. Twee swem-mers van Fish Eagle Aquatics, Renier van Greuning en Minke Janse van Rensburg, het verlede week teen swemmers van oor die land meegeding en uitstekend gevaar.
Renier van Greuning
Renier het in die borsslag en vlinderslag beide 50 m- en 100 m-items geswem. Hy het ook die 100 m-vryslag geswem.
In die 50 m-borsslag was hy eerste in die 15 en onder kategorie, en breek ook die Wes-Kaapse rekord in sy ouderdomsgroep. Hy het ook algeheel sewende in die A, B en C-finale geëindig ten spyte daarvan dat hy slegs 14 jaar oud is.
Van Greuning was ook eerste in die 100 m-borsslag en in die 50 m-vlinderslag was hy reserwe in die C-finale.
Minke Janse van Rensburg
Minke het weereens die internasionale downsindroom rekords laat spat. Sy het haar eie 25 m en 50 m-vryslagwêreldrekords tydens die uitdunne en weer in die finale verbeter. Sy het ook haar 100 m junior vryslagwêreldrekord verbeter asook die 25 m-borsslag junior wêreldrekord wat deur die Franse swemmer Cleo Renou, gehou was.
In die 25 m-vlinderslag het sy 'n Afrika-rekord gebreek en in beide die 50 m-borsslag en vlinderslag die junior Afrika-rekords.
Minke word eersdaags 17 jaar oud en daarom was hierdie die laaste gala wat sy as 'n junior downsindroom-swemmer kon swem.
Dit was daarom gepas dat Barbara Higgins, die downsindroom swem internasionale rekord administrateur, tydens die byeenkoms die Barbara Higgins-toekenning vir uitsonderlike prestasie aan Minke oorhandig het. Minke is een van slegs drie junior downsindroom-swemmers wat gedurende die afgelope 20 jaar ope (alle ouderdomme) downsindroom-wêreldrekords aangeteken het.
Anders as die ander twee, die Italianer Maria Bresiani en die Franse swemmer Cleo Renou, het Minke nie slegs een so 'n rekord kon aanteken nie, maar vier. Sy hou tans vier wêreldrekords en nog drie junior wêreldrekords. Sy hou ook verskeie ope en junior Afrika-rekords.
Minke se pa, Hennie is dankbaar teenoor die Fish Eagle Aquatics afrigter, Sybeth Hughes, wat ten spyte van 'n lang en ernstige siekbed, steeds daagliks Minke se oefenprogram aangestuur het. Hy bedank ook Sybeth se hulpafrigters, Jo-Ann Fransman en Rainier Mathee en het waardering teenoor Renier se afrigter, Franna Vorster, wat hom op koue en reëndae bygestaan het wanneer Minke by Virgin Active gimnasium geswem het.
Minke Janse van Rensburg, met die medaljes wat sy gewen het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'