Video
GEORGE TENNIS NUUS EN VIDEO - Moenie verbaas wees as jy eendag die name, Heike Janse van Vuuren en Drikus de Jager hoor in die tennisenkelspel-eindstryde van Wimbledon vir mans en dames nie.
Die twee 16-jariges van George speel op die oomblik die tennisbane aan die brand.
Heike het onlangs aan die internasionale tennisfederasie se toernooi in Durban deelgeneem in die dogters o.18 kategorie en die eindstryd gewen.
Die laaste vier maande het sy aan ses internasionale toernooie deelgeneem waarvan sy een gewen het en in drie die tweede plek behaal het. Sy het al die nommer een posisie in Suid-Afrika vir dogters o.18 beklee.
Drikus, 'n leerling van die Hoërskool Outeniqua, het onlangs in die nasionale kampioenskappe vir seuns o.16 net-net in die eindstryd verloor. In die dubbels het hy gewen.
Hy en Heike was 'n paar jaar gelede in die SA laerskolespan en is ook junior Springbokke.
Hulle word deur dieselfde afrigter, Eduard Steyls by die Great Tennis Academy afgerig.
Heike Janse van Vuuren en Drikus de Jager aan die oefen.
Heike kom uit 'n sportfamilie en het eers geswem. Dit was haar ouer sussie, Ulricke, wat haar geprikkel het om te begin tennis speel. Sedert sy nege jaar oud was, ontvang sy afrigting by die akademie en daarna het sy vinnig gevorder.
Sy oefen sowat 30 ure per week. Dit is nie net van bal slaan nie, sy oefen ook in 'n gimnasium. Sy glo 'n suksesvolle speler moet emosioneel sterk wees en oor goeie balvaardighede beskik.
Heike droom daarvan om beroepstennis te speel. "Dis nie of nie, maar wanneer. My plan is om al vier die Grand Slams te wen." Sy geniet die tennis, dis 'n passie.
Heike Janse van Vuuren en Drikus de Jager aan die oefen.
Drikus het as sesjarige begin tennis speel en by die akademie afrigting begin ontvang. Sy pa, Heinie de Jager het op sy dag ook goed tennis gespeel. Ook Drikus sal graag beroepstennis wil speel. Hy wil kyk of hy nie 'n tennisbeurs kan kry om na die buiteland te gaan nie.
Net soos Heike sal hy ook al vier die Grand Slams wil wen. Volgens hom moet 'n goeie tennisspeler se ingesteldheid reg wees en hy/sy moet baie gedissiplineerd wees.
Kyk 'n video hieronder:
Beide is dit eens dat afrigting noodsaaklik is. Met talent alleen gaan jy dit nie maak nie. Hulle het al saam as 'n span gemengde dubbels gespeel en wie weet, dalk kan dit nog verder gaan.
Lizelle Fourie, mede-eienaar van die akademie, het gesê beide is baie goed. Hulle is van die spelers met die meeste talent wat ooit daar afgerig is. "Hulle is goeie kinders en is gefokus. Hulle is van die regte stoffasie."
Sy het geen twyfel dat ons nog baie van hulle gaan hoor nie.
Heike Janse van Vuuren en Drikus de Jager. Foto's: Eugene Gunning
VIDEO - Kyk hoe oefen die tenniskampioene:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'