GEORGE NUUS - Die plaaslike tennisspeler Heike Janse van Vuuren (17), het 'n groot prestasie op die tennisbaan behaal toe sy die African Junior-kampioenskappe vir dogters o. 18 in Tunisië gewen het.
Die toernooi het op Maandag 28 Maart begin en Sondag 3 April geëindig.
Sy was daarby die naaswenner in die dogters-dubbelspel-afdeling.
Heike was ook deel van die Suid-Afrikaanse span wat die spankompetisie gewen het. Sover bekend is dit die eerste keer dat 'n speler van dié streek die toernooi wen.
Met haar jongste prestasie is sy nog 'n tree nader aan die verwesenliking van haar droom om vir Junior Wimbledon en die Junior Amerikaanse Ope te kwalifiseer.
Daarvoor sal sy borgskappe nodig hê.
Sy het voorheen afrigting by die Great Tennis Academy ontvang. Lizelle Fourie, direkteur van die akademie, het Maandag gesê dis 'n massiewe prestasie. "Sy sal dit nog ver bring op die tennisbaan. Ons voorspel dat sy sal kwalifiseer vir Junior Wimbledon."
Volgens Fourie gaan Janse van Vuuren aanstaande jaar met 'n tennisbeurs aan 'n universiteit in Amerika studeer wat beteken sy sal nader aan die groot tennistoernooie wees.
"Heike se ouers, Theo en Brigitte Janse van Vuuren, speel as fenomenale sportmense 'n groot rol in haar sukses. Heike is van jongs af geleer om reg te eet en die werksetiek van 'n atleet te ontwikkel," het Fourie gesê.
Janse van Vuuren is die afgelope tyd in Potchefstroom gebaseer, want die meeste groot toernooie vind in die noordelike dele plaas.
Heike Janse van Vuuren in aksie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'