OUDTSHOORN NUUS - Rugbywêreldbekerkoors het Maandag 11 Desember hoog geloop in Oudtshoorn tydens die besigtiging van die Webb Ellis-trofee.
Die verrigtinge het afgeskop by Eljada Skool en burgemeesterskantoor waarna die trofee na die De Jager-sportkompleks geneem is. Daar het die publiek en bykans 2 000 Bok-aanhangers, met hul onderskeie families, foto's geneem.
Hierdie rare geleentheid is moontlik gemaak deur 'n inwoner van Oudtshoorn, Hennie Baartman, wat ook 'n uitvoerende lid van SA Rugbyunie (SARU) is.
Baartman sê dat die idee om die wêreldbeker Oudtshoorn toe te neem by hom posgevat het toe die Springbokke op hul triomfantlike landwyetoer in Kaapstad, Oos Londen, Durban, Pretoria en Johannesburg was.
"Op 'n logistieke vlak was dit net nie moontlik om die spelers en die beker na plattelandse dorpies soos Oudtshoorn te neem nie. Daar was ook goeie redes omdat die spelers ook moes terugkeer na lande en unies waar hulle gekontrakteer is. Alle prosedure en toestemming is toe gevolg om ook dorpies soos Oudtshoorn en Grabouw die geleentheid te gee om die beker van nader te sien.
Kan ons ook 'n kiekie kry asb?
Almal wag geduldig hul kans af om 'n kiekie met die beker te neem.
Baartman sê verder dat die Webb Ellis-trofee van Oudtshoorn na SARU se hoofkantoor in Plattekloof in Kaapstad gaan waarna dit in die nuwe jaar ook na ander punte geneem sal word. Volgens Baartman het heelwat dorpe soos Bredasdorp ook al aansoek gedoen om die trofee te besigtig.
Een van die Bok-ondersteuners, Sylwin Plum, het tydens die besigtiging sy dank teenoor Baartman en die Oudtshoorn-munisipaliteit gespreek om die beker toeganklik vir die gewone mens op straat te maak.
Nog 'n persoon van die Rastafari-gemeenskap, Jody-Ann Balow, was dit eens dat dit 'n spesiale oomblik was om die beker in lewende lywe te kon sien. Ook Emile Cupido, het SARU en al die rolspelers bedank vir die ervaring.
"Hierdie gebaar van Baartman wys dat hy respek vir sy dorp en mense het, so ek haal my hoed af dat hy sy posisie gebruik het om ook aan ons te dink."
Ondersteuners kon hul glimlagte nie vir een oomblik hou nie.
Benewens die feit dat Baartman verant-woordelik was dat die gemeenskap ook die wêreldbeker in 'n plattelandse dorpie soos Oudtshoorn kon sien, was hy ook tydens die wêreldbeker self in Frankryk as deel van SARU se delegasie.
"Kyk, dit was 'n groot en spesiale geleentheid wat ek nie seker is of ek dit ooit weer in my leeftyd sal beleef nie. Ons het vir 58 aande in Frankryk in vier hotelle geslaap. So ja, dit was 'n onvergeetlike ervaring om persoonlik spelers soos Richie Mccaw, Francois Pienaar, John Smit en Adrie Savea om slegs 'n paar te noem, te ontmoet en te gesels sowel as top-administrateurs.
"Omdat almal ons voor die eindstryd afgeskryf het omdat ons van die kwarteindstryd af slegs met een punt kon wen, was ons sege soveel meer soeter en emosioneel. Trane het vrylik gevloei en die partytjie was tot die vroeë oggendure; 'n man soos ek is gewoonlik 9uur in die bed, maar daai aand het ek eers 5uur in die bed gekom," skerts Baartman.
Van links is Pieter Fourie (DA), Zoe TyTya (ANC), Chris Macpherson (burgemeester), Hennie Baartman (SARU), Suzane Jansen (PA), Walter Hendricks (munisipale bestuurder). Agter: George Kersop (burgemeesterskantoor) Foto: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’