GEORGE NUUS - Dis nie almal wat daarop aanspraak kan maak dat hulle binne 'n paar maande betrokke sal wees by twee groot wêreldbekertoernooie nie.
Voorts om twee sportkodes, netbal en rugby, by te staan met hul voorbereiding om optimaal te presteer op die werêldverhoog.
Maar dis presies wat die plaaslike fisioterapeut Innis Erasmus gaan doen. Erasmus is die Protea-netbalspan se hoë-prestasiebestuurder vir die Vitality Netbal Wêreldbeker 2023 wat van 28 Julie tot 6 Augustus in Kaapstad plaasvind.
Wanneer hy daar klaar is, maak hy gereed vir nog 'n sportskouspel. Hy is die Namibiese-rugbyspan se fisioterapeut vir die Wêreldbekertoernooi wat van 8 September tot 28 Oktober in Frankryk plaasvind.
Erasmus is goed toegerus vir die groot verantwoordelikhede. Hy is al meer as 20 jaar betrokke by rugby. Voorheen was hy onder meer by die SWD Arende, die Stormers, SA Rugby en Southern Kings betrokke.
In 2019 het hy Namibië se span as hooffisio by die wêreldbekertoernooi in Japan bygestaan.
Op sy kerfstok is ook 'n MBA - meesters in besigheidsadministrasie wat hy in 2015 voltooi het. Voorts het hy navorsing oor veranderingsbestuur in transformasie kwessies in SA Rugby voltooi.
In Augustus 2021 is hy aangestel as hoë-prestasiebestuurder by Netbal Suid-Afrika. Sy taak is om die Spar Proteas by te staan met strategiese beplanning en hul voorbereiding vir die netbal-wêreldbekertoernooi.
Erasmus het Maandag 26 Junie aan George Herald gesê die doel en plan is om 'n podiumposisie vir die Proteas te kry. "Die tuis voordeel gaan in ons guns tel."
Nog iets wat in die span se guns tel, is dat die spelers almal al oor die laaste twee tot drie wêreldbekers saamkom. "Ek is opgewonde oor die groei van netbal in SA en veral die jong opkomende talent wat ons het.
"Ek voel die span is goed voorberei en het met TNL-kragweek wat tans aan is, goeie kompeterende wedstryde gehad, asook die internasionale spelers wat terugkeer."
Oor die rugby het hy gesê: "Namibië Rugby het my weer genader om hul by te staan in hul voorbereiding vir die rugbywêreldbeker in September. Die plan is 'n eerste wen by die wêreldbeker vir Namibië. Ek glo werklik dit is wel haalbaar."
Hy glo enigiets is moontlik, indien jy 'n plan het. "As jy glo jou doelwitte is haalbaar, die regte bestuur en leiding van leierskap en samewerking en inkoop in jou plan, is dit 'n kampioenresep."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’