GEORGE NUUS EN VIDEO - Die sakrekenaar wat gewoonlik dié tyd van die SWD Premierliga-rugbyseisoen nader getrek word, beklemtoon net die taai stryd wat op dié spanne wag wat nou veg om die uitspeelrondes te haal.
Vier klubs het nog 'n rekenkundige kans om by die agterdeur in te glip om in die vierde plek op die puntelys in te skuif. Die topdrie kan effe op hul louere rus, want hul plekke is veilig.
Progress (63 punte met 'n punteverskil van +257) gee die pas aan met Barbarians (63 met 'n punteverskil van +153 punte) wat in hul nekke blaas. Albei gaan in die eerste uitspeelrondes op hul onderskeie tuisvelde opdraf.
Crusaders (54 punte) is veilig in die derde plek. Hulle pak Groot-Brakrivier tuis en in hul laaste ligawedstryd speel hulle teen Blanco in die Gaatjie.
Op huidige vorm behoort Crusaders met goeie oorwinnings hier sy posisie te behou. Dis ook die span wie se spel in die laaste paar ligawedstryde 'n sterk opwaartse kurwe getoon het. Ditto Evergreens.
Evergreens (49), Heidelberg (48), Groot-Brakrivier (44) en Bridgton (45) is die klubs wat om die vierde been baklei.
Logika sê dis Evergreens wat die sterkste kans staan om met dié vierde been weg te draf.
Bridgton en Groot-Brak moet nou inhaalrugby speel en kan geen verdere nederlae bekostig nie. Dit sal die doodskoot vir hul titelaspirasies wees.
Moet ook nie uit die oog verloor dat die twee onderste spanne op die puntelys, Blanco (13) en Maori's (10), veg om in die Premierliga te bly. Die span wat laaste eindig, skuif af na die Presidentsliga. Albei die spanne is dus in 'n desperate oorlewingsveldtog gewikkel en dit maak hulle gevaarlik. Enige span met sy rug teen die muur sal daarop uit wees om die ander se pret te bederf.
Klubrugby in die SWD bly maar opwindend.
The sport staff from the George Herald will each week reflect on the past weekend’s sporting activities and also discuss upcoming sport events in the new week leading up to the weekend. Hugo Redelinghuys, sport editor, and freelancers André Stander and Anton Gericke will be on the panel.
Watch their first video below.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'