GEORGE NUUS - Sportliefhebbers uit veral Pacaltsdorp sal bly wees om te hoor dat 'n kontrakteur uiteindelik aangestel is vir die herstel van pawiljoen se dak by die Pacaltsdorp-stadion.
Brendon Adams, burgemeesterskomiteelid vir sport van die George-stadsraad het vroeër die week in 'n video-verklaring op Facebook bekendgemaak dat 'n vergadering met die kontrakteur wat die herstel van die dak moet doen, Dinsdag 27 Junie afgehandel is.
Adams het by navraag gesê die kontrakteur wil so gou moontlik op die terrein wees. Die weer belemmer hom egter in die stadium. Die kontrakteur moet sy werk voor die tweede week van Oktober afhandel.
Inwoners sal op hoogte gehou word wanneer dit vir die publiek oopgestel word.
Adams het benadruk dat die veiligheid van toeskouers van kardinale belang is.
Die beskadigde dak by die Pacaltsdorp-sportstadion. Foto: Eugene Gunning
Oor kritiek met die sloerdery het hy gesê daar was bepaalde prosesse wat gevolg moes word.
So byvoorbeeld moes 'n ingenieursverslag eers opgestel word. Die voor-geskrewe tenderprosesse moes ook gevolg word.
Die probleme by die stadion kom al 'n lang pad en het tot groot frustrasie vir rugby en veral Evergreens- ondersteuners gelei. Evergreens gebruik dit as 'n tuisveld en die klub het al geld verloor as gevolg van die situasie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’