GEORGE RUGBYNUUS - Hy is in George gebore en getoë en het op klubvlak sowel as vir die SWD diep rugbyspore getrap. Nou maak Marius Janse van Rensburg groot naam as bedryfsbestuurder by die Pumas, het Tobie van den Bergh, redakteur van die Middelburg Observer, aan George Herald vertel.
Die legendariese Blou Bulle-spanbestuurder, Wynie Strydom, het so opgewonde langs die veld geraak, dat hy later bekend gestaan het as "Hartaanval Wynie." Maar daar is ook die stil spanbestuuder, jy sien hom nie, jy hoor hom nie, maar hy is al vir twaalf jaar een van die bestes.
Marius Janse van Rensburg het op Witbank aangekom met 'n erge Kaapse bry en 'n groot liefde vir rugby. Nou, 12 jaar later, is hy verantwoordelik vir die dag-tot-dag take aan die beroepskant van die Mpumalanga-rugbyunie, nadat hy vroeër vanaf spanbestuurder tot bedryfsbestuurder bevorder is.
Janse van Rensburg is 'n koerantman se droom: Professioneel, behulpsaam, vriendelik en 'n man wat sy rugby ken. Hy herinner baie aan die destydse Suidoos-Transvaal sekretaris, Robert Brand.
Hy is gebore en getoë in George waar hy gematrikuleer het aan Hoërskool Parkdene.
"My liefde vir rugby het begin toe ek 11 jaar oud was, ek het beide laer- en hoërskoolrugby gespeel en ook die SWD op provinsiale vlak verteenwoordig, maar nooit professionele rugby gespeel nie," sê Janse van Rensburg.
Klubrugby in George is groot en Janse van Rensburg het vir Silver Stars en Crusaders uitgedraf, waar hy later afgerig het.
Sy pad na die Pumas het begin by die SWD se amateurspan en later as die spanbestuurder van die SWD se professionele span waar hy drie jaar betrokke was.
Op 1 November 2008 het hy die skoonheid van die Outeniquaberg verruil vir die mynhope van Witbank.
Oor Strydom sê Janse van Rensburg: "Ek het groot respek vir Wynie, hy was baie passievol oor die spel en die emosies was duidelik sigbaar. Ek is self passievol, maar is meer rustig langs die veld, aangesien ek nader aan die spel is as die afrigters en ek gee my opinie gedurende wedstryde."
Maar gaan hy probeer om Strydom se rekord van 16 jaar te verbeter? "Ek sal graag vir nog lank by die Pumas wil bly, ek is baie gelukkig in Mpumalanga."
Sy hoogtepunt die afgelope 12 jaar was in 2013 toe die Pumas aangewys is as die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) se span van die jaar en Jimmy Stonehouse as Saru-afrigter van die jaar.
Oor Stonehouse raak hy liries: "Volgens my is dit een van die beste, indien nie die heel beste, afrigter in die land. Hy is 'n eerlike en reguit persoon en dit is wat ek van hom waardeer. Baie van die sukses by die Pumas kan aan hom toegeskryf word, iemand wat sy laaste sal gee vir sy spelers en die unie. Hy leef elke dag om die Pumas beter te maak."
Spanbestuurders sal vir jou vertel dat daar altyd 'n "stoute" speler of twee is wat hulle gryshare gee. Maar wat was sy benoudste oomblik by die Pumas?
"Ek moes 'n vliegtuig drie ure laat wag by OR Tambo-lughawe, omdat ons bus laat was vanaf Nelspruit. Ek het nog nooit so gesweet nie, want ek het gesien hoe ons die vliegtuig verpas Windhoek toe."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'