Update
RUGBY NUUS - Die stof het nog lank nie gaan lê oor die bohaai wat ontstaan het oor die herhaalde uitstel van die wedstryd tussen die A-spanne van die Evergreens- en George-rugbyklubs nie.
Die wedstryd sou verlede Woensdagaand, 21 Junie, op Outeniquapark gespeel word maar is toe weer uitgestel. Dit was nadat Evergreens wou hê die wedstryd moes uitgestel word en die versoek is toegestaan. Dit sal nou op 29 Julie gespeel word.
Dit blyk egter nou dat George-rugbyklub dit nie so aanvaar nie. "Ons aanvaar nie die datum van 29 Julie nie," het Perez Julyan, voorsitter van George-rugbyklub, Dinsdag 27 Junie gesê.
Die klub is die gasheer vir die wedstryd. Volgens Julyan is die besluit eensydig deur SWD-rugby geneem. George-rugbyklub is nie in die besluit geraadpleeg nie. Die klub eis nou die ligapunte en het ook reeds regsadvies ingewin.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het gesê hy beskou die saak as afgehandel. Die wedstryd is geskeduleer vir 29 Julie en hy het nog nie weer iets van die klubs gehoor nie.
"Dit was omstandighede buite ons beheer. Mens kan nie altyd almal gelukkig hou nie. Ons moes 'n besluit neem."
Aanloop van rugbydrama
Die jongste rugbydrama het 'n lang aanloop. Die SWD Arende moes die naweek van 9/10 Junie in 'n halfeindstryd van die Mzansi-reeks op Outeniquapark speel. Eers was daar onduidelikheid oor hul teenstanders.
Toe vasgestel is dat dit Boland gaan wees, was die wedstryddag 'n twispunt. Die wedstryd is toe uitgestel. Op Vrydagmiddag, 9 Junie, het die Arende egter gehoor hulle moet die volgende dag teen Boland speel.
Nog 'n probleem het toe opgeduik want Evergreens moes op dieselfde dag in dieselfde stadion teen George speel. Die wedstryd is toe vir later geskeduleer. Kort voor die wedstryd is vasgestel dat daar nie genoeg kragopwekkingsvermoë vir die stadionligte tydens beurtkrag is nie. Die wedstryd is toe uitgestel.
Later is bepaal dat dit Woensdag 21 Junie gespeel sal word. 'n Paar uur voor afskop het dit egter bekendgeword dat die wedstryd weer uitgestel is.
Vorige artikels:
- George vs evergreens wedstryd weer uitgestel
- Ever en George se wedstryd weer uitgestel
- Gaan kyk môreaand rugby
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’