Breaking News
GEORGE NUUS - Die langverwagte wedstryd tussen die A-spanne van Evergreens- en George-rugbyklub wat vanaand 21 Junie om 19:00 op Outeniquapark sou plaasvind is vir 'n tweede keer uitgestel.
George Herald het kort gelede bevestiging daarvoor gekry.
Toeskouers wat uitgesien het om vanaand na die wedstryd tussen die twee spanne te gaan kyk, moet vir eers ander planne maak.
Daar kan dalk egter 'n kinkel in die kabel wees want George se spelers is van voorneme om vanaand op die veld te draf en 'n skeidsregter te probeer kry.
'n Erg ontstoke Perez Julyan, voorsitter van George-rugbyklub wat die gasheer vir die wedstryd is, het kort gelede bevestig dat hy 'n skrywe van SWD-rugby gekry het waarin hulle meegedeel is dat die wedstryd weer uitgestel word. Sy span is van plan om op die veld te draf.
Daar is betroubaar is verneem dat dit moontlik verband kan hou met pogings om die veld te beskerm. Dit het Dinsdag bekend geword dat die o.18 Cavenweek vir skole wat van 3 tot 8 Julie plaasvind daarheen skuif. Die veld by Hoërskool Outeniqua waar dit oorspronklik sou plaasvind, sal nie binnekort baie wedstryde kan hanteer as gevolg van die onlangse baie reën nie.
Die jongste rugbydrama het natuurlik 'n lang aanloop. Die SWD Arende moes die naweek van 9/10 Junie in 'n halfeindstryd van die Mzansi-reeks speel. Eers was daar onduidelikheid oor hul teenstanders.
Toe vasgestel is dat dit Boland gaan wees, was die wedstryddag 'n twispunt. Die wedstryd is toe uitgestel. Op Vrydagmiddag, 9 Junie, het die Arende egter gehoor hul moet die volgende dag teen Boland speel.
Nog 'n probleem het toe opgeduik want Evergreens moes op dieselfde dag in dieselfde stadion teen George speel. Die wedstryd is toe vir later geskeduleer. Kort voor die wedstryd is vasgestel dat daar nie genoeg kragopwekkingsvermoë vir die stadionligte tydens beurtkrag is nie. Die wedstryd is toe uitgestel.
Later is bepaal dit sou vandag wees. En toe die jongste nuus en nou wag ons op die volgende hoofstuk....
Sodra kommentaar van SWD Rugby ontvang word sal dit bygewerk word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’