Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die drama rondom die uitstel van vanaand, Woensdag 21 Junie, se langverwagte wedstryd tussen die A-spanne van die Evergreens- en George-rugbyklubs om 19:00 op Outeniquapark, het vanmiddag ‘n nuwe wending geneem.
Dit blyk nou dat Evergreens wou hê die wedstryd moes uitgestel word en die versoek is toegestaan.
Kobie Carelse, voorsitter van Evergreens, het aan George Herald gesê die klub het Maandagaand met George gepraat oor die moontlike uitstel.
Evergreens het toe ‘n versoek aan SWD Rugby gerig. Dit was gegrond op humanitêre oorwegings wat verband hou met een van die spelers en ‘n afrigter.
Evergreens het Dinsdagaand (20 Junie) nog voortgegaan met voorbereidings, want die klub het toe nog niks van SWD Rugby gehoor nie. Die klub is Woensdagoggend ingelig dat die versoek toegestaan is. Die wedstryd sal nou tot 29 Julie gespeel word.
Vroeër is 'n bewering teenoor George Herald gemaak dat die uitstel van die wedstryd verband kan hou met pogings om die veld te beskerm. Dit het Dinsdag bekend geword dat die o.18 Cavenweek vir skole wat van 3 tot 8 Julie plaasvind, daarheen skuif.
VIDEO: Outeniquapark is stil en koud in die reën
Die veld by Hoërskool Outeniqua waar dit oorspronklik sou plaasvind, sal nie binnekort baie wedstryde kan hanteer nie as gevolg van die onlangse baie reën. Geen bevestiging kon nog daarvoor gekry word nie.
'n Erg ontstoke Perez Julyan, voorsitter van George-rugbyklub wat die gasheer vir die wedstryd is, het vanmiddag gesê die klub het vroeëre planne laat vaar om vanaand op die veld te draf en 'n skeidsregter te probeer kry. Van die spelers het intussen reeds na ander bestemmings vertrek toe hulle hoor die wedstryd is uitgestel.
Volgens Julyan is hy nie in die besluit geken nie. Hy het regsadvies ingewin.
Hy het gesê SWD Rugby se hantering van die klub is "onregverdig" en ‘n "skande". Die nuutste besluit het finansiële implikasies vir die klub. Kostes is reeds aangegaan. Hy het benadruk die klub gaan beslis nie die saak daar laat nie.
* Die jongste rugbydrama het 'n lang aanloop. Die SWD Arende moes die naweek van 9/10 Junie in 'n halfeindstryd van die Mzansi-reeks op Outeniquapark speel. Eers was daar onduidelikheid oor hul teenstanders.
Toe vasgestel is dat dit Boland gaan wees, was die wedstryddag 'n twispunt. Die wedstryd is toe uitgestel. Op Vrydagmiddag, 9 Junie, het die Arende egter gehoor hul moet die volgende dag teen Boland speel.
Nog 'n probleem het toe opgeduik want Evergreens moes op dieselfde dag in dieselfde stadion teen George speel. Die wedstryd is toe vir later geskeduleer. Kort voor die wedstryd is vasgestel dat daar nie genoeg kragopwekkingsvermoë vir die stadionligte tydens beurtkrag is nie. Die wedstryd is toe uitgestel.
Later is bepaal dit sou vandag (Woensdag) wees en toe breek die nuus vandag dat die wedstryd weer uitgestel is na 29 Julie.
Vorige artikel: Ever en George se wedstryd weer uitgestel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’