Gallery
GEORGE NUUS - Uitbundige vreugde heers in Kwaggaland nadat Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) se eersterugbyspan Saterdag 6 Augustus die eerste keer in nege jaar daarin kon slaag om die span van Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) te klop.
Toe die Kwaggas dit laas in 2013 kon regkry, was spelers soos Warrick Gelant en Duhan van der Merwe, wat intussen hul merk in die internasionale arena gemaak het, nog deel van die span.
Toe die eindfluitjie Saterdagmiddag blaas was daar net een punt verskil tussen die twee spanne en die eindtelling was 21 - 20 in die guns van die Kwaggas.
Dit was 'n klipharde wedstryd op die hoofveld van Outeniqua. Die Kwaggas het vir die grootste deel van die wedstryd agtergeloop. Met net 'n paar minute oor het Ruan Swart, 'n voorry vir die Kwaggas, vir 'n drie oorgeduik. Die telling was toe 19 - 20.
Alles het afgehang van Cliffie Jacobs se doelskop. Hy het daarin geslaag om die bal oor te skop.
Maar dit was nog nie die einde nie. Boishaai het toe verbete teruggeveg in die laaste paar minute, maar die Kwaggas se verdediging het gehou.
Cliffie Jacobs van die Kwaggas wat die wenpunte aangeteken het.
Piet Cloete, adjunkhoof: sport van Outeniqua, het Maandag gesê tot voor die wedstryd was Boishaai die no.1-rugbyspan in die land. Die span het onlangs vir Paarl Gimnasium geklop.
FOTOGALERY: Hoërskool Outeniqua se eersterugbyspan triomf
Volgens Cloete is die skool baie trots op die span. "Ons het reeds uitstekende oorwinnings behaal teen Selborne, Monnas, Diamantveld, Durbanville, Brandwag en nou ook Hoër Jongenskool Paarl.
"Die teleurstelling was die verloor teen Oakdale en Stellenberg. Ons kon beide wen, maar op die dag, het die bal reg gespring vir ons opponente. Saterdag was 'n groot een vir ons, aangesien Hoër Jongenskool Paarl die interskole teen Paarl Gimnasium gewen het.
"Hulle word al vir jare beskou as een van die top drie rugbyskole in SA. Ons het baie respek vir hulle en is baie dankbaar dat hulle bereid was om hier teen ons te kom speel.
"Ons is baie opgewonde oor ons o.14 A- en o.16 A-spanne wat ook gewen het. Dit wys dat ons as 'n plattelandse skool, op die regte pad is.
"Ons direkteur van afrigting is Abré Minnie en sy hulp is Henry Grimes. Abré het vir baie jare Griekwas afgerig, terwyl Henry as speler en afrigter betrokke was by SWD.
"Eerskomende naweek kom kuier Framesby by ons en die naweek daarna is ons FNB Classic Clash teen HTS Drostdy."
Pasop Boshaai hier kom ek. Camden-Jay Schoeman van Kwaggas in volle vaart.
Volgens Cloete maak die skool gebruik van konsultante om die spelers van o.14 af sekere vaardighede te leer. Dit is verseker bydraend tot die spelers/span se sukses. Ian Hattingh, 'n oud-Springbok voorry, help met die skrums. Zane Kirchner, nog 'n oud-Springbok en heelagter help met die skoppe en Jandré Blom, 'n oud-Cheetah en SWD-skrumskakel doen verdediging.
Daar is ook Heinrich du Plessis, wat amper die hardste werk met hul kondisionering in die gimnasium.
Volgens Cloete is sowat die helfte van die span in gr. 11. Dit maak die skool met die oog op aanstaande seisoen nog meer opgewonde.
Die skool kan ook spog met vier spelers in die SA Skolespanne. Hulle is by die Cravenweek afgerig deur Jaco Jansen van Rensburg. Hy is die skool se hoof van werwing en rig ook die o.14 A-span af.
Hierdie is myne. Patrick Kitete, een van Kwaggas se sterk voorspelers aan die beweeg met die bal. Foto's: Francois Boshoff
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'