RUGBY NUUS - Vanjaar se Kwaggas eerste rugbyspan was 'n unieke groep jong mans wat teleurstellings as geleenthede vir groei gebruik het en 'n impak op die ouers en veral die afrigtingspan van die skool gehad het.
Hul prestasies is tydens 'n gala-aand by Hoërskool Outeniqua se Kwagga Cuisine op Donderdag 3 Oktober gevier.
"Die afrigtingspan moes vanjaar, as gevolg van die uniekheid van hierdie groep, ons benadering aanpas in terme van hoe ons gewoonlik met ons seuns werk.
"Julle het 'n gesonde balans gehandhaaf tussen sport en akademie en dit was lekker om te sien hoe julle jul gewig oral ingooi. Daar is min spanne wat soveel karakter gebou het soos julle, want die teleurstellings en vernederings het julle net sterker gemaak. Dit het julle mans gemaak," het afrigter Abrie Minnie gesê.
Hy het gesê dat, alhoewel dit 'n jaar van hoogte- en laagtepunte was, was geen van die spelers ooit negatief by die oefeninge nie en elkeen het alles gegee en niks op die veld gelos nie.
"Julle kan elkeen sê julle het Hoërskool Outeniqua trots gemaak," het Minnie gesê.
Hy het die kaptein, Luca Potgieter, ook uitgesonder vir sy bydraes. "Luca, jy verstaan nie die vlak van respek wat jy by die afrigtingspan het nie. Dit was nie 'n maklike jaar nie en elkeen van jou rugbybroers sal jou altyd daarvoor respekteer," het hy gesê.
Om dankie te sê vir die geestelike leierskap wat hy aan die span gebied het, het die spelers vir past. Alfred Rademan (middel, GO Grace) ‘n getekende memorabilia rugbybal gegee. Saam met hom is Ruart Curlewis (links, onderkaptein), en Luca Potgieter (regs, kaptein).
Namens die ouers het Annegret Strydom ook die spelers bedank vir hul opofferings en bydraes wat hulle tot die skool gemaak het.
"Dankie dat ons saam met julle kon rugby speel, want na elke wedstryd het dit gevoel of ons saamgespeel het. Dit was 'n voorreg om die jaar saam met julle te kon stap en dankie aan die afrigters dat julle ons soveel meer as net rugby geleer het," het Strydom gesê.
Laastens het spankaptein Luca Potgieter gesê dat alhoewel dit 'n jaar met baie op- en afdraandes was, het hulle aangehou om te werk en te veg, met die seisoen wat op 'n hoogtepunt geëindig het na hul 11 - 0 oorwinning teen HTS Drostdy.
Die Kwaggas se senior speler van die jaar is Elgernon Meyer.
"Wat 'n voorreg om die swart trui vanjaar te kon aantrek. Die tye sal vir ewig by ons bly en ons is dankbaar vir die afrigters, ouers en pastoor Alfred Rademan wat ons lewens verander het," het Potgieter gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’