GEORGE NUUS - Die Hoërskool Outeniqua in George loop breë bors rond. Twee van sy oudleerlinge, Warrick Gelant en Armand (Akker) van der Merwe is ingesluit in die Springbok-rugbyspan wat Saterdag in Washington, DC Amerika teen Wallis gaan speel.
Gelant was in 2013 'n gr.12-leerling by die skool. Hy was destyds een van die skool se staatmakers op die rugbyveld en was ook onderkaptein van die skool se eerstespan. Hy het vir SWD se Cravenweekspan en die SA skolespan uitgedraf. Hy het in verskeie posisies gespeel onder meer heelagter.
Hy kom oorspronklik van Knysna. Hy het daar in die laerskool vir die SWD Cravenweekspan uitgedraf en het later sy skoolloopbaan in George voortgesit.
Gelant het reeds verlede jaar Springbok geword en op die oomblik draf hy vir die Bulls uit.
Van der Merwe is 'n nuweling in die Springbok-groep. Hy speel haker en kom oorspronklik van George. In 2008 en 2009 het hy vir die skool se eerstespan uitgedraf. In 2009 was hy in die SWD Cravenweekspan.
Hy het tot verlede jaar vir die Lions in Gauteng gespeel en daarna vir die Sharks in KwaZulu-Natal.
Sy ouers, Alhan en Dulene is baie trots op hom. Volgens Alhan is hulle verheug. "Ons is bly dat hy ingesluit is in die span. Hy het sy kanse benut en dit begin nou vrugte afwerp. Ons het gehoop dat dit vroeër al sou gebeur en ons is bly dat hy nou die kans kry."
Die familie gaan beslis Saterdag die toets op televisie kyk.
Warrick Gelant.
Alhan het telefonies met Armand in Gauteng gesels na sy insluiting in die span. Die span is daar saamgetrek voor hul vertrek na Amerika. "Hy is baie opgewonde. Hy het altyd gehoop dat hy eendag vir die Springbokke sal kan uitdraf. Dis mos maar enige seun se droom."
Piet Cloete, adjunkhoof en sporthoof van die skool, het gesê hulle is baie trots op Gelant en Van der Merwe.
"Ons het altyd geweet Warrick sal dit nog ver bring op die rugbyveld.
"Akker het ons verbaas. Hy was 'n goeie speler op skool en het die afgelope twee, drie jaar baie ontwikkel.
"Hy het die afgelope paar jaar, twee keer vir die Barbarians in internasionale wedstryde uitgedraf. Hy het toe sy hand opgesteek vir internasionale rugby. Sy skuif verlede jaar van die Lions na die Sharks het vir hom nuwe geleenthede geopen."
*Benewens Gelant en Van der Merwe, het die skool ook drie ander Springbok-rugbyspelers opgelewer naamlik Faan Rautenbach, Johan Heunis en Marco Wentzel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'