GEORGE NUUS - Nieteenstaande 'n jaar vol uitdagings het die eersterugbyspan van Hoërskool Outeniqua sterk gestaan. Hulle kon net drie wedstryde speel teen onderskeidelik, Noordheuwel, Helpmekaar en Marais Viljoen en het al drie gewen.
Boonop is 12 lede van die span gekies vir die Cravenweekspan en vier vir die Akademiespan, maar weens die Covid-19-situasie kon hulle ongelukkig nie vir die spanne uitdraf nie.
Tydens 'n afsluitingsfunksie by die skool Woensdagaand, 20 Oktober, is die span se prestasies opnuut in die kollig geplaas. Erkenning is gegee en dankie gesê aan borge, afrigters, ouers en spelers.
Die geleentheid is ook deur drie oud-Springbokke, Anton Leonard, Zane Kirchner en Ian Hattingh, bygewoon wat by rugbyafrigting by die skool betrokke is.
Piet Cloete, adjunkhoof sport van Hoërskool Outeniqua, het gesê skolerugby het die laaste vyf jaar baie professioneel geraak. Om in die top-20 te kom moet skole professionele afrigters aanstel, hul eie gimnasiums bou met sportwetenskaplikes wat die seuns kondisioneer, deelneem aan landwye toernooie en spelers moet gewerf word deur bemarkers van die skool.
"Geen skool kan al daai finansiële verpligtinge nakom nie en daarom word daar deesdae swaar gesteun op borge en ook oudleerders."
Outeniqua is baie dankbaar teenoor sy hoofborg naamlik Hyundai George vir hulle bydrae die afgelope vyf jaar. Ander borge vir 2021 was, Volcano wat die spelers se drag geborg het, Buffalo Tenks, South Cape Poles van Albertinia, SPAR Wellington Square, Pro-Physio, USN en Mr Tekkie.
Voor, van links: Johan Willemse (Hyundai George), Daniel Marais (Hyundai George) en Heinrich du Plessis (Outeniqua-kondisioneerder). Middel: Wessel Mienie (fisioterapeut), Mark (Hyundai George - handelaarshoof), Francois Breytenbach (eerstespankaptein en speler van die jaar), Dylan Lambrecht (voorspeler van die jaar), Casten Michaels (agterspeler van die jaar), Simeon Oosthuizen (meeste punte aangeteken en meeste drieë gedruk) en Jandré Blom (afrigter). Agter: Jaco Jansen van Rensburg (afrigter)
Toekennings wat gemaak is:
- Speler van die jaar: Francois Breytenbach
- Agterspeler van die jaar: Casten Michaels
- Voorspeler van die jaar: Dylan Lambrecht
- Meeste punte en drieë: Simeon Oosthuizen
Sittende: Johan Willemse (Hyundai George), Daniël Marais (Hyundai George) en Mark Bennet (Hyundai George - handelaarshoof). Staande van links: Wessel Mienie (Pro-Physio), Gustav Hofmeister (eienaar van Spar Wellington Square), Siegfried Graupe (eienaar van Buffalo Tenks) en Jurgens Graupe -Buffalo Tenks).
Francois Breytenbach (eerstespankaptein en speler van die jaar) en Piet Cloete (sporthoof).
Die oud-Springbok Anton Leonard, saam met sy seun, Johan en sy vrou, Madeleine. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'