GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua was een van 10 skole wat verteenwoordig was by verlede naweek se Sewestoernooi in Bloemfontein waar die gasheer, Grey College, in beide die o.15 en o.17-kompetisies koning gekraai het.
Die feit dat daar enigsins weer op die veld uitgedraf kon word was egter 'n hoogtepunt vir beide die senior en junior spelers, sowel as hul afrigters.
Jaco Jansen van Rensburg, Kwagga se rugbyhoof, het na afloop van die naweek gesê: "Dit was vir ons 'n voorreg om die seuns na so 'n lang afwesigheid van kompeterende rugby die geleentheid te kon bied om aan die toernooi deel te neem. Ons spelers het hulle uitstekend van hul taak gekwyt in 'n strawwe dag van goeie sewesrugby en ons sien uit na 2022."
Die Kwagga 7's juniors het vyfde in die toernooi geëindig. Hul teken 170 punte aan en staan slegs 38 punte af. Die seniors het die dag in algehele tweede plek geëindig, met 172 punte aangeteken (28 drieë in ses wedstryde) terwyl daar slegs 36 punte (ses drieë) afgestaan is.
Die blitsige Keith Syster het nie net die toernooi se beste drie aangeteken nie, maar kon spog met 10 drieë in ses wedstryde.
Die seniors kon boonop in nuwe truie, geborg deur Orange Apple Eiendomme en Uys Fourie Prokureurs, speel.
Hulle is tydens die amptelike oorhandiging van die truie deur oud-Springbok Heinrich Brüssow, wat nou in George woon, toegespreek.
"Julle moet julself net geniet en gel as 'n span," het Brüssow die o.17's gemaan. "Elke suksesvolle span waarvan ek nog ooit deel was, het daardie gees gehad."
Uys Fourie het namens die borge, waarvan albei eienaars trotse oud-Kwaggas is, gepraat en gesê dis met trots dat hulle met Outeniqua Hoërskool assosieer.
"Dis lekker om 'n bydrae te lewer tot die skool se sukses op soveel gebiede en om deel te wees van die Outeniqua-familie. Ons glo sport is een van die boustene van elke kind se lewe, en ons staan hulle graag by. Dit is ons voorreg om 'n klein rol te speel in die groei van die kinders as leerders en toekomstige leiers van hierdie pragtige dorp en land."
Juniors voor, van links: Joshua Smith, Elgernon Meyer, Craig Lottering, Nicolas Duvenhage (kaptein), Reshaan Damans en Quintus Campbell. Agter: Gareth Maree, Keenan Jantjies, Virgil Pockpas, kondisioneerder Ever Kleynhans, afrigter Wian Small, Luca Potgieter (o/kaptein), Zian du Plessis en Andrew Stopforth.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'