GEORGE RUGBY NUUS - Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) loop breë bors rond nadat sy eersterugbyspan Saterdag 6 Augustus die span van Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) met een punt geklop het in 'n baie spannende wedstryd.
Die wedstryd is op die Kwaggas se veld in George gespeel.
Die Kwaggas was in 2013 laas aan die wenkant en toe het spelers soos Warrick Gelant en Duhan van der Merwe, wat intussen hul merk in die internasionale arena gemaak het, nog vir hulle uitgedraf.
Piet Cloete, adjunkhoof: sport van Outeniqua het vanoggend gesê die Kwaggas het vir die grootste deel van die wedstryd agtergeloop. Met net 'n paar minute oor het Ruan Swart, 'n voorry vir die Kwaggas vir 'n drie oorgeduik.
Die telling was toe 19 - 20. Alles het afgehang van Cliffie Jacobs se doelskop. Hy het daarin geslaag om die bal oor te skop. Telling 21 - 20.
Maar dit was nog nie die einde nie. Boshaai het toe verbete teruggeveg in die laaste paar minute, maar die Kwaggas se verdediging het gehou.
Tot voor die wedstryd was Boishaai die no.1-rugbyspan in die land. Die span het onlangs vir Paarl Gimnasium geklop.
Volgens Cloete is die skool baie trots op die span en hy het ook spesifiek verwys na die groot rol wat die twee afrigters, Abriè Minnie en Henry Grimes in die span se sukses speel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'