GEORGE RUGBY NUUS - Rugbyliefhebbers kan Saterdag op Outeniquapark 'n proesel klubrugby kry wanneer die George-rugbyklub, wat vanjaar weer in die SWD Premierliga sal meeding, 'n rugbydag vir hoofsaaklik plaaslike klubs aanbied.
Twee van die agt geskeduleerde wedstryde sal groot belangstelling wek.
Om 17:00 pak Crusaders vir Durbell van Kaapstad waarna die hoofwedstryd tussen George en Silver Stars om 18:30 afskop.
Durbell, wat op 9 Maart teen Progress, die SWD Premierliga-kampioen in 'n Gouebeker-wedstryd kragte meet, gaan beslis 'n groot toets vir Crusaders wees.
En George gaan 'n goeie idee kry van wat op hom wag in die SWD se topliga teen Silver Stars, wat al sy tande in dié kompetisie geslyp het.
Die plaaslike spanne wat gaan deelneem, is George (3 spanne), Crusaders (3 spanne), Silver Stars (2 spanne), Young Roses (2 spanne), Mosselbaai (2 spanne) en vanuit die Kaap Durbell (2 spanne).
Altesame agt wedstryde is op die program. Die eerste wedstryd op die B-veld begin reeds om 11:30 en op die A-veld om 14:00 wanneer Crusaders 2 teen Durbell 2 te staan kom. Direk daarna speel George 2 teen Mosselbaai se eerstes om 15:30.
Hekke open om 10:00 en toegang is R20 vir volwassenes. Skoliere kan gratis inkom.
Daar is heerlike eetgoed by die stalletjies te koop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'