RUGBY NUUS - Daar is groot opgewondenheid in die Van der Merwe huishouding van George.
Die jong Suid-Afrikaans gebore rugbyspeler Duhan van der Merwe, maak môre (Saterdag 26 Junie) sy buiging vir die Britse en Ierse Leeus teen Japan op Murrayfield in Edinburgh, Skotland.
Van der Merwe kom oorspronklik van George en hy het sy skoolloopbaan in 2013 aan Hoërskool Outeniqua voltooi.
Sy ouers, Alhan en Dulene van der Merwe en sy tweelingsussie, Simoné, woon steeds in George. Sy ouer, broer, Armand, wat ook van George kom, het al vir die Springbokke uitgedraf.
Duhan se ma, Dulene, het vanmiddag aan die George Herald gesê almal insluitende Simoné en Armand is baie opgewonde.
“Ek gaan beslis môremiddag na die wedstryd op televisie kyk.” Die wedstryd word van 16:00 uitgesaai.
Volgens Van der Merwe sal hulle hom beslis te sien kry in Suid-Afrika. Die plan is dat hy na die toer ‘n draai by sy ouerhuis in George sal maak.
*Die span sal na verwagting kort na die wedstryd teen Japan na Suid-Afrika kom waar hulle in onder meer drie toetse teen die Springbokke sal speel. Hulle speel reeds aanstaande Saterdag( 3 Julie) hul eerste toerwedstryd in Gauteng waar hulle teen die Leeus van Johannesburg speel.
Die eerste toets is op 24 Julie in Kaapstad,die tweede op 31 Julie in Johannesburg en die derde op 7 Augustus ook in Johannesburg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'